Suikerbekkie skitter in stofbruin winter Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 18 August 2008 06:42
Untitled Document

Al ooit gesien hoe ’n glinsterende suikerbekkie ’n dowwe winterveld kan laat sprankel? As alles stofbruin en vaal is, skitter suikerbekkies in ’n kaleidoskopiese vertoning in die son.

Een van die Bronberg se algemeenste suikerbekkies is die Maricosuikerbekkie, Nectarinia mariquensis, met sy metaalagtige bors-, rug- en ondersyvere.Sy groen kop en rug, pers-rooi borsband en swart pens is kenmerkend. Wyfies is vaal met ’n liggeel onderkant en het donkergestreepte bruin voorkante en vaalbruin rûe.


Só skitter die Maricosuikerbekkie in die son
Foto: Johan Snyman UCT Avian Demography Unit

Dié voëltjies is 14 cm lank en weeg ongeveer 11 gram. Hulle word gereeld in swerms saam met ander suikerbekkies gesien. Die Maricosuikerbekkie kan van die baie soortgelyke purperbandsuikerbekkie onderskei word omdat hul groter is, ’n langer en dikker snawel het en’n breër pers borsband.

Hulle verskil van die rooiborssuikerbekkies deur die swart pens (nie grys nie) en van die swartpensen bloukruissuikerbekkies deur die pers borsband (nie rooi nie).

Die lang geboë snawel laat dié voëltjie toe om maklik blomnektar en insekte diep binne-in blomme by te kom. Hulle vreet insekte soos vlinders, bye, perdebye, sprinkane en miere. Dié insekte word gewoonlik in vlug gevang. Maricosuikerbekkies sal ook aspris hul nessies naby aan aktiewe perdebyneste bou om die prooi makliker by te kom.

Hulle roep is ’n lang reeks ‘tsip’- geluide en ’n vinnige kweelsang. Maricosuikerbekkies bly in doringveld en droë breëblaarboswêreld en nessies word hoog bo in bome gemaak.


Die Maricosuikerbekkie het ’n lang geboë snawel
Foto: Wikipedia

Die nessie is ’n hangende ovaal wat baie slordig is. Van buite af lyk dit soos spinnerakke wat oor dooie blare geweef is, maar binne is dit baie netjies uitgevoer. Daar is ’n sy-ingang naby aan die bokant van die nessie en net die snawel van die broeiende voëltjie steek by die nes uit.

Die Maricosuikerbekkie is monogaam en sal by sy maatjie bly vir die res van sy lewe of tot die maatjie doodgaan. Daarna sal ’n ander maat gekies word. Daar word een tot drie wit eiers gelê.

 

© 2024 Die/The Bronberger