Huilende boom help mense se trane opdroog. Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 18 August 2008 06:34
Untitled Document

Huil hierdie boom regtig of kry hy sy naam omdat hy jou laat huil? Kan dit wees dat die doepas wat van sy wortels, bas en blare gemaak word, genoeg skop het om trane in jou oë te bring?

Daar’s mense wat sê hy word ’n huilboom genoem omdat sy hout so duursaam is dat gereedskaphandvatsels wat daarvan gemaak is, aanhou werk tot die byle huil. Met die draai van die vorige eeu is sy hout gebruik om riempiesbanke en –stoele te maak wat vandag nog hou.


Die huilboom word tot 15 meter hoog
Foto: Palmbob

Die ware rede agter dié boom se naam het egter iets met insekte te doen. Sekere tye van die jaar sit hordes sapsuigende insekte, bekend as skuimbesies, op die boom se takke. Hulle skei ’n soort skuim af wat lyk soos water wat aanhoudend op die grond drup. Dit lyk dan of die boom huil.

Daar kom ’n verskeidenheid insekte op dié boom voor en skoenlappers, soos die genera Charaxes en Axioceres, broei in die huilboom. As goeie bron van nektar is hy ’n waardevolle boom vir byeboere. Vee en wild vreet graag die jong blare en peule.

Doepa
Tog is dit mense wat tradisioneel die beste nut uit dié boom put. Verpoeierde huilboom- wortels word op wonde gesmeer om genesing aan te help. Die bas word gekou om koliek te verlig en ’n aftreksel word van die wortels gemaak om maagongesteldhede te behandel en ontslae te raak van parasiete in die binnegoed. ’n Afkooksel van die bas en blare help blykbaar ook daarvoor.

Die stoom van dié warm afkooksel word gebruik om seer oë te behandel en in ernstige gevalle as oogdruppels.

’n Brousel gemaak van verpoeierde stam- en wortelbas word geneem vir diarree en disenterie. Brousels van die wortel kan gedrink of mee gegorrel word vir sere in die keel.


Peule

Die stoom van blare wat kook help blykbaar vir tandpyn. Volgens tradisionele resepte help die wortels ook om hoes en tuberkulose te behandel. Die wortels word in water geweek en liggies verhit. ’n Koppievol van die afkooksel moet elke uur vir ’n dag lank gedrink word.

Blykbaar help die bas ook om lewerprobleme te behandel. Die bas word gekook en die afkooksel gedrink. Dit veroorsaak braking wat volgens orlewering die lewer skoonmaak en pyn verlig.

Kweek
Die huilboom, Peltophorun africanum, is ’n semi-bladwisselende boom wat tot 15 meter hoog word. In ouer bome is die boombas gegroef en grys-bruin. Die bas van jonger takke is glad en grys. Die blare is silwer-grys en bedek met fyn haartjies.

Die boom spog met helder geel blomme van September tot April. Die blomme word gevolg deur trosse plat, dun peule van Desember tot Mei.


Helder geel blomme en veeragtige blare
Foto: Top Tropicals

Om dié boom te kweek moet vars sade oornag in warm water geweek word. Saai in ’n 5:1 mengsel riviersand en kompos. Die boom groei die beste in goed gedreineerde grond. Hy groei vinnig en is droogte-bestand. Jong bome is vir die eerste drie jaar sensitief vir ryp.

 

© 2024 Die/The Bronberger