Morestond het mis in die mond Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 18 August 2008 05:16
Untitled Document

Die Zwavelpoort-vallei word vroeg op winteroggende in’n versluierde sprokieswêreld omskep waar ’n mens nie verbaas sal wees om skouers te skuur met wesens omring deur stralekranse nie. Veral nie in Saintstraat nie.

Daar is baie bygelowe, legendes en mites oor mis. Een van die bekende legendes gaan oor al die bergklimmers wat dood is terwyl hul Mount Brocken, die hoogste piek in die Harz bergreeks in Oos- Duitsland, geklim het.

Blykbaar sien dié bergklimmers ’n misterieuse figuur in die mis met ’n stralekrans om sy kop.


Die mis hang oor die stroompies wat Zwavelpoortspruit toe loop. Saintstraat is die grondpad op die foto en as jy op ’n mistige oggend hier loop, kan jy dalk net ’n ‘saint’ met ’n stralekrans gewaar.

Bergklimmers wat dié figuur gewaar, is gewoonlik so geskok dat hulle hul greep laat vaar en van die kranse afval.

Wetenskaplikes sê egter dat daar niks misterieus is aan hierdie figuur nie – dis net die bergklimmer se eie skaduwee wat omring is deur’n reeks donker en gekleurde ringe, amper soos reënboë.

Jy kan so ’n illusie net sien as die son agter jou is. Mis is klein waterdruppeltjies wat in die lug hang. As sonlig die waterdruppels binnedring, word sekere strale gereflekteer vanaf die agterkant van elke druppel.


Knap na sonsopkoms hang die mis oor die Bronberg. Die digste mis is oor die Zwavelpoortspruit waar kouer lug bo-oor warmer water hang.

Ringe met spesifieke kleure word rondom ’n skadu gevorm. Daar is dikwels meer as een konsentriese sirkel van reënboog kleure met rooi altyd aan die buitekant. So, as jy een winteroggend deur ’n drif in die Zwavelpoortspruit stap met die son op jou rug en jy sien skielik ’n figuur met ’n stralekrans om die kop voor jou, het jy nie die tydige met die ewige verwissel nie.

Dis jou eie skaduwee waarvoor jy skrik.

 

© 2024 Die/The Bronberger