Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 16 July 2008 02:00
Untitled Document

Hulle sê kiewiete maak die beste ouers in die diereryk omdat hulle vir niks stuit as hul nes bedreig word nie. Daar is gevalle opgeteken van kiewiete wat ’n trop olifante van roete laat verander het. Ons weet ook van ’n hele paar plaaspaadjies in die Bronberg wat vreemdsoortige draaie maak om kiewietnessies in die broeiseisoen te vermy.

Die kroonkiewiet, Vanellus coronatus, is een van die bekendste voëls in die Bronberg-gebied. Dié voël is 30 cm lank, het lang bene en ’n kenmerkende ‘kroon’ op die kop, wat soos ’n swart mus onderbreek deur ’n wit stralekrans, lyk. Hy het ’n ligte rooibruin bors wat met ’n swart band van die wit pens geskei word. Die bene en snawelbasis is helder rooi en die snawelpunt swart. Die geslagte lyk eners.


Kroonkiewiet
Foto: Wikipedia

Die kroonkiewiet kom buite broeityd in swerms voor in ’n verskeidenheid kort grasveldgebiede, soos’n beweide of afgebrande veld, op braaklande, sportvelde en gholfbane. Hulle vreet insekte soos termiete, miere, kewers en krieke, asook erdwurms en is op hul aktiefste rondom sononder.

Lok
Dié voëls kan redelik mak word, maar sal nie huiwer om mense en diere van hul neste te verjaag nie. ’n Kiewiet kan selfs maak of hy ’n beseerde vlerk het om roofdiere en mense na hom toe te lok en in die proses die aandag van die nes af te trek.

Dié kiewiet se roep is ’n kras, harde ‘kreeeep’-geluid wat al hoe hoër en harder word en naderhand half histeries klink. Hulle maak ook’n ‘kree-kree-kree’ geluid in vlug en is baie lawaaierig in die broeiseisoen. Kroonkiewiete broei in die laat winter en vroeë lente voor die reënseisoen begin. In die broeiseisoen word die mannetjies se kaal vel-gedeeltes baie helderder. Die mannetjies gee vliegvertonings om wyfies na hul gebiede te lok. As die wyfie op ’n mannetjie besluit, sal sy hom volg in sy vliegvertoning. Hulle kan lewenslank maats bly.

Nes
Die nessie is ’n vlak holte in die grond en word kenmerkend in baie kort gras of op kaal grond gemaak en uitgelê met klippies of plantmateriaal. Die meeste broeiwerk word deur die wyfie gedoen en die mannetjie help net op warm dae, wanneer hy broei of skadu vir die nessie verskaf.

’n Broeipaar kan meer as een keer in ’n seisoen broei. Twee eiers word op ’n slag gelê en dit neem ’n maand voor die kuikens uitbroei. Die kuikens, wat met rukkende bewegings soos opwen-speelgoed rondhardloop, verlaat die nes ná vier tot vyf weke.’n Kroonkiewiet kan tot 20 jaar oud word.


’n Kiewiet op haar nes
Foto: Avian Demography Unit University of Cape Town

.
.

.

Kuikens hardloop met rukkende bewegings soos opwenspeelgoed rond
Foto: Avian Demography Unit University of Cape Town
 

© 2024 Die/The Bronberger