Vlam-van-die-vlakte vernoem na bankier Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 24 October 2012 07:21
Untitled Document

Vlam-van-die-vlakte se Engelse naam is oor die dekades heen so verdraai dat mense gedink het die struik behoort nie van nature in ons kontrei voor te kom nie. ‘Pride of De Kaap’ het ‘Pride of the Cape’ geword. Sy naam verwys egter nie na die Kaapprovinsie nie maar na die De Kaap-vallei, suid van Nelspruit, waar die boom veral volop is.

Sy Afrikaanse naam verwys na sy baksteenrooi blomme wat vir lang tydperke van September tot Maart, en ook sporadies deur die res van die jaar, in geil trosse hang.

Vlam-van-die-vlakte, Bauhinia galpinii, se wetenskaplike naam vereer twee 16de eeuse plantkundiges, Johann en Caspar Bauhin van Switserland, en ‘n 19de eeuse Suid-Afrikaanse botanikus en bankier, Ernest Edward Galpin. Met Ernest se dood het hy ongeveer 16 000 herbarium monsters aan die Nasionale Herbarium in Pretoria nagelaat. Generaal Smuts het hom die ‘prins van versamelaars’ genoem.

Ernest het sy lewe deur by die Oriental Banking Corporation, wat later Bank of Africa geword het, gewerk. Hy het in 1888, toe hy bankbestuurder op Grahamstad geword het, ernstig begin plantmonsters versamel. In 1889 is hy na Barberton verplaas en het gefassineerd geraak met die streek rondom die De Kaap-vallei se plantegroei.


Vlam-van-die-vlakte
Foto: Inheemse Bome
.

Die vlam-van-die-vlakte se blomme lyk amper soos kappertjies
Foto: BT Wursten

Rank
Vlam-van-die-vlakte is gewoonlik ‘n groot struik wat oor ander plante of bome rank, maar met die nodige snoeiwerk is hy ‘n klein boompie wat tot vyf meter hoog kan word. Dié plant het gewild geword as ‘n rankplant oor stoepdakke en ander tuinstrukture waar hy as fokuspunt met sy mooi rooi blomme dien. Die blare is in twee lobbe opgedeel en die blomme word in trosse naby die eindpunte van takke gedra. Die vrug is ‘n smal, bruin peul wat oopbars om sade vry te stel.

Verskeie spesies skoenlappers leef van die peule, blomme en blare van dié plant. Wild vreet sy blare en suikerbekkies drink die blomme se nektar. Die lang buigbare takke is tradisioneel gebruik om mandjies mee te vleg en om dakkappe vir hutte te maak.


Ernest Edward Galpin

Groei
Vlam-van-die-vlakte groei maklik van saad en is ‘n gewilde plant in groter tuine oor sy lang blomtydperk. Hy blom beter as hy ten minste die helfte van die dag in vol son is.

Saai die saad in die lente. As jy hulle die nag voor die tyd in warm water laat week, sal hulle vinniger ontkiem. Na ontkieming groei die saailinge vinnig en kan gou in individuele potte oorgeplant word. Vlam-van-die-vlakte kan lae temperature weerstaan, maar is sensitief vir ryp in sy eerste twee jaar.

 

© 2024 Die/The Bronberger