Langasem kan diep duik Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 26 September 2012 00:24
Untitled Document

Dié is ‘n ou wat amper ‘n minuut lank onderwater kan swem om visse te vang. Hy kan baie diep duik, maar verkies dit om stadig swemmende visse in vlakker water te vang. Jy kan hom in bykans enige varswater habitat, behalwe vinnig vloeiende strome, kry.

Die rietduiker, Phalacrocorax africanus, duik onder die water in om prooi te soek wat dan na die oppervlakte gebring word. Dié karnivoor vreet ‘n wye verskeidenheid visse, maar ook krappe, paddas, insekte en kleiner voëltjies.

Die rietduiker is 50-55 cm lank met ‘n vlerkspan van 85 cm. Hy is ‘n swart voël met ‘n ligte strook op sy rug en ‘n lang stert sonder merke. In broeiverekleed het volwassenes ‘n geel-oranje gesigvlek en keel, en ‘n klein kuifie op die voorkop. Die geslagte lyk eners en onvolwassenes is donkerbruin bo-op en wit onder.


Die rietduiker
Foto: John C Avise

Rietduikers is monogaam maar woon gewoonlik in ‘n kolonie van tien tot 50 broeipare saam met ander watervoëls, soos die slanghalsvoël en reiers. Hulle is gewoonlik stil, behalwe vir die gekekkel en gesis in broeikolonies.

Die mannetjie kies die plek in die kolonie waar die nes gebou gaan word en dui dit aan deur sy kop vooroor en agteroor te gooi terwyl hy sy vlerke klap. Die nes word binne ‘n week deur die mannetjie en wyfie saam gebou en bestaan uit ‘n deurmekaar platform stokke en dooie riete met ‘n koppievormige holte in die middel wat met gras uitgevoer is. Dit word gewoonlik in die vurk van ‘n boom wie se takke oor die water hang, geplaas, in ‘n groot bos riete of selfs op die grond.

Rietduikers broei dwarsdeur die jaar, maar die piek is van Oktober tot Januarie. Die wyfie lê een tot ses eiers, gewoonlik drie tot vier. Die mannetjie en wyfie neem beurte om die eiers uit te broei vir so 23 tot 24 dae.

Die kuikens word deur altwee ouers gevoer en verlaat na ongeveer drie weke die nes. Hulle word omtrent vier weke nadat hulle die nes verlaat het, heeltemal onafhanklik.

 

© 2024 Die/The Bronberger