Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 26 September 2012 00:23
Untitled Document

Al ooit gewonder waar die Notsung (witolien) sy naam kry? Blykbaar kom dit van die vroeë Duitse bosbouers wat in die Kaap gewerk het en gratis gebruik van dié boom se hout en vrugte sonder ‘n permit kon geniet.

Die woord ‘nutzeng’ beteken die reg van tydelike besit van dit wat aan iemand anders behoort met die voorwaarde dat jou besit daarvan geen skade daaraan sal veroorsaak nie.

Die Notsung, Halleria lucida, was in die verlede bekend as witolienhout of witolyfhout. Die genus Halleria is vernoem na Albrecht von Haller (1708-77), ‘n professor in plantkunde aan die Universiteit van Göttingen.

Die boom behoort aan ‘n klein genus van tien spesies wat in Yemen, Madagaskar en Afrika, van Ethiopië tot die Kaap, voorkom. Die Notsung is een van drie spesies wat algemeen in suidelike Afrika voorkom. Die ander twee is Halleria elliptica en Halleria ovata. Die spesie-naam lucida is Latyns vir glansend en verwys na die boom se blare.


Die Notsung se blomme en vrugte groei direk uit die boom se takke en soms selfs uit die stam uit
Foto: Wikipedia

Heksery
Dit is nie net die Duitse bosbouers wat dié boom besonders gevind het nie; die Zoeloes het geglo dat seremoniële verbranding van die glansende blare heksery verdryf en die siele van oorlede voorsate oproep.

Om allerhande booshede en selfs weerlig te laat wyk is die volgende prosedure gevolg: Die bome is elke jaar aan die brand gesteek en die as is dan met krokodilvet gemeng. Dié mengsel is aan pale gesmeer wat rondom ‘n nedersetting in die grond geplant is.

Notsung is ook in tradisionele medisynes vir vel- en oorprobleme gebruik. Droë blare is eers in water laat lê en daarna in die oor uitgedruk om oorpyn te verlig.

Dié boom se hout kan gebruik word om vuur te maak deur wrywing. Die hout het ‘n ligte kleur en is sterk, maar word nie vir die maak van meubels gebruik nie omdat die stukkies hout te klein is. Dit is eerder as assegaai-handvatsels en gereedskap gebruik.


Die Notsung het verskeie stamme
Foto: Wikipedia

Woud
Notsung kan tot 20 meter hoog word in ‘n woud, maar in blootgestelde groei-omstandighede is hy meer van ‘n struik en word twee tot vyf meter hoog. Die boompie is immergroen en het meestal verskeie stamme.

Hy is een van die beste bome om aan te plant as jy nektar- of vrugtevretende voëls na jou tuin wil lok. Die nektarryke blomme is oranje tot baksteenrooi of geel en word direk aan die stamme gedra, selfs aan die hoofstam. Hy blom van Mei tot Desember/Januarie.

Trosse klein groen bessies word ook aan die stam gedra, baie soos die stamvrug se blomme en vrugte. Die bessies word swart wanneer hulle vanaf Augustus begin ryp word. Hulle is eetbaar, maar het ‘n sieklike soet smaak en neig om ‘n mens met ‘n droë mond agter te laat. Die sade is baie klein swart vlekkies in die jellie-agtige vlees van die vrug.

Groei
Notsung groei maklik van sade en snitte of stiggies. Saai die saad in die herfs of in die lente tot vroeë somer in ‘n standaard goed gedreineerde saailingmengsel en bedek liggies met growwe sand of stukkies bas. Die saad sal binne ses weke ontkiem. Saailinge kan oorgeplant word sodra hulle groot genoeg is om te hanteer.

Sagtehout snysels kan in die lente tot vroeë somer geneem word. Hulle sal binne ses weke begin wortels vorm. Jong bome blom vir die eerste keer in hulle tweede jaar.

 

© 2024 Die/The Bronberger