Enkeldoring help teen builepes, malaria en bilharzia Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 27 August 2012 19:17
Untitled Document

Daar is ‘n boom in die Bronberg-gebied wat tradisioneel gebruik is om pestilensies, van builepes tot malaria, teen te werk. Hy is gewild as bonsai en sy blomme maak hom ‘n pragtige tuinboom, maar hy is bykans onmoontlik om te kweek as sy sade nie eers dwarsdeur ‘n herbivoor beweeg het nie.

Die enkeldoring, Acacia robusta, is ‘n geharde boom wat droogte en rypbestand is. In tradisionele medisyne word ‘n poeier wat van sy wortels gemaak word op swelsels gesit, en ‘n aftreksel van sy wortels word gebruik om menstruele probleme, steriliteit in vrouens en selfs bilharzia te behandel.


Die enkeldoring
Foto: Witkoppen Wildflower Nursery

Behandel
‘n Aftreksel van enkeldoring-bas is gebruik om geslagsiekte, maagpyn en velprobleme te behandel en ‘n aftreksel van sy blare om slangbyt te behandel. Stoom van bas wat gekook word, word ingeasem vir borsprobleme. Die bas word gebruik om leer te looi en die onderste dele van die bas om koorde te maak. Die hout is nie geskik vir die maak van meubels nie omdat dit skeeftrek as die hout begin droog word.

Die enkeldoring, ook bekend as brakdoring, word 20 tot 25 meter hoog en sy takke groei regop in die lug in. Takke bly dik, selfs aan die punte. Hy verloor sy blare in die winter, maar kan maklik uitgeken word aan die donker kussingtjies aan die takkies wat in die somer die blare sowel as die dorings dra.

Dié boom dra romerige wit blomballetjies in die vroeë lente en groot bondels peule van Januarie tot Augustus.


Die enkeldoring se bas word in baie tradisionele medisynes gebruik
Foto: Plantbook

Kweek
Dit is moeilik om onbehandelde sade te laat ontkiem; gewoonlik ontkiem omtrent net drie persent van hulle. Sade wat eers deur herbivore gevreet is ontkiem makliker uit hulle mis.

Sade wat van die boom afgeval het, word deur insekte beskadig terwyl hulle op die grond lê en is nie die moeite werd om te gebruik nie. Dit is beter om saad van die hoogste punt van die boom te pluk, maar onbehandelde saad kan nie vir baie lank gebêre word nie.

As die sade meganies geskraap word, kan ontkieming tot 90% verhoog, en behandeling met kookwater en suur kan ontkieming tot 80% verhoog.


Die enkeldoring se blomme
Foto: Plantbook

 

© 2024 Die/The Bronberger