Spaanse riet neem oor in Bronberg-gebied Print E-mail
News - Ons Omgewing
Sunday, 22 July 2012 07:24
Untitled Document

Die indringer bekend as Spaanse riet neem met rasse skrede toe in die Bronberg-gebied. Dit vervuil veral in vleilande, riviere en slote maar is deesdae ‘n algemene gesig waar rommel onwettig gestort word.

Raadslid Danie Erasmus is bekommerd oor die drastiese toename van hierdie indringer in Cullinan. Dit is veral prominent aan die westekant agter Railwaystraat, die oop stuk grond wes van Jasminestraat en die groot ruimte op die hoek van Main- en Koöperasiestraat. In Refilwe is dit orals opmerklik veral om die myn se slikdam.

Die riete floreer ook in die hoewegebiede waar vleilande of stroompies is, soos in Boschkop.


Spaanse riet floreer waar rommel gestort is en loop vinnig uit ná ‘n veldbrand
Foto: Danie Erasmus

Gras
Spaanse riet, Arundo donax, is ʼn reusagtige meerjarige grassoort wat tot tien meter hoog kan word. Dié riete blom in die laat somer. Hulle dra regop veeragtige pluime van 40-60 cm lank, maar die sade is selde vrugbaar. Hulle produseer baie stamme uit ʼn risoom, ‘n kruipende ondergrondse stam.

Dié risome vorm ‘n knopperige, uitgebreide mat wat tot een meter onder die grond indring. Stukkies risoom van minder as 5 cm lank kan maklik weer uitloop. Dit beteken dat Spaanse riet goed aangepas is om vloede te oorleef. Alhoewel ‘n vloed ‘n groep riete kan vernietig, sal hulle verder stroomaf weer uitloop. Dié wortelstamme kan ook droë tye oorleef.


Spaanse riet kan tot 10 meter hoog word
Foto: Danie Erasmus

Eeue
Genetiese data van die plant het bewys dat sy oorsprong in Asië lê, maar dat hy eeue gelede reeds versprei het na die Mediterreense gebiede. Die vroeë Egiptenare het hulle oorledenes in dié blare toegedraai en wetenskaplikes sê dat die blare so lank hou omdat die plant silika bevat. Die stamme is baie sterk en buigbaar en word reeds 5 000 jaar lank gebruik om fluite mee te maak.

Spaanse riet is van die plante op aarde wat die vinnigste kan groei – bykans 10 cm per dag. Hulle ding met stadiger groeiende inheemse spesies mee vir water en word nie deur wildsoorte gevreet nie.

Insekte
Hulle word ook nie deur plaaslike insekte gevreet nie, waarskynlik oor die skadelike chemiese stowwe, soos silika en verskeie alkaloïede, wat hulle bevat.

In sekere dele van Amerika word insekte spesiaal van Mediterreense lande ingevoer om Spaanse riet te gaan vreet. Insekte soos Tetramesa romana en Rhizaspidiotus donacisis is in die Verenigde State geregistreer as biologiese beheer-agente. Blykbaar word insekte bekend as die Arundo perdeby, Arundo dopluis en Arundo vlieg ook ingevoer.


Spaanse riet blom in die laat somer met regop veeragtige pluime van 40-60 cm lank

Brand
Spaanse riet loop ná ‘n veldbrand weer vinnig uit, wat beteken dat hulle ‘n een-spesie plantomgewing in vleilande kan veroorsaak. Waar so iets langs ‘n stroom-habitat gebeur, veroorsaak dit minder skaduwee wat lei na ‘n hoër watertemperatuur. Dit kan ‘n laer suurstof-konsentrasie in die water veroorsaak wat ‘n kleiner verskeidenheid waterdiere tot gevolg het.

Danie sê dit is nie bekend of die ontbinde munisipaliteit van Nokeng ooit verordeninge teen indringerplante ingestel het nie, want daar was nooit ‘n inspekteur in sig nie en niks is van die munisipaliteit se kant af gedoen om die publiek van die probleem se omvang bewus te maak nie.

Danie versoek dat inwoners hulle erwe skoon hou van indringerplante. Waar daar riete groei op munisipale grond moet hulle dit rapporteer by 012-379-3123 en ‘n verwysingsnommer kry wanneer dit aangemeld word. Indien die Metro nie binne 14 dae reageer nie, kan Danie per e-pos gekontak word by This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2024 Die/The Bronberger