Betaalde roofstorters bevark omgewing Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 24 May 2012 10:54
Untitled Document

‘n Rommelstorter van formaat is skuins oorkant Mooikloof Heights langs Garstfonteinweg-verlenging bedrywig. Dit blyk of ‘n man teen betaling veral Mooiklofers se rommel wegry en dit dan sommer langs die plotpaaie in die omgewing aflaai.

Francois Fouche gebruik die grondpad, waar die rommel onder die kragpale gestort word, gereeld. Hy het in die begin van Mei agtergekom dat iemand daar rommel stort en vermoed dat die eerste storting oor die langnaweek aan die einde van April begin het.


Die jongste rommelhoop
Foto’s: Francois Fouche

In Maart het Die Bronberger berig oor Tierpoorters wat ‘n roofstorter in hulle gebied vasgetrek het. Dié man was besig om ‘n inwoner van Mooikloof se rommel langs die paaie van Tierpoort af te gooi.

‘n Nommerplaat en ander dokumente wat Francois onlangs naby Mooikloof Heights opgetel het, kon die eienaars van die gemors identifiseer. “Wat ek kan sien is wie se gemors dit is, maar ek kan nie bevestig wie dit daar gestort het nie,” sê hy. “Dit was dalk hulle dokumente wat agtergebly het met verhuising, en wat dalk deur nuwe intrekkers gestort is.”


‘n Nommerplaat, saam met briewe en ander dokumente, kon die eienaars van die rommel identifiseer

Dié dokumente, van apteekvorms met mediese fonds besonderhede, tot briewe en oortreksels van ‘n graad drie wiskundeboek, het aangedui dat een gesin se van Gamble is en dat hulle op ‘n stadium in Delmas gewoon het.

Die Bronberger het met Sonja Gamble kontak gemaak en uitgevind dat hulle nou in Mooikloof woon. Volgens Sonja het hulle ‘n “swart man in Mooikloof” betaal om hulle rommel weg te ry. Sy het gesê dat hulle hom sal vra om die rommel so gou as moontlik langs die pad te verwyder. Teen spertyd het Sonja nog nie aan ons versoek voldoen om die man se naam bekend te maak nie.


Die plek waar die rommel gestort word

Die dag nadat Die Bronberger vir Sonja gebel het, het Francois weer verby die rommel gery en gesien dat twee kleiner rommelhope aan die brand gesteek is. Dit was windstil en die brand het gelukkig nie versprei nie. Francois het die gras wat vlamgevat het doodgetrap.

 

© 2024 Die/The Bronberger