Spookgeluide behoort aan ?n slangvanger Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 25 April 2012 00:40
Untitled Document

As jy die hartseer spookagtige geluid van dié buikspreker hoor, is dit moeilik om te raai dat dit aan ‘n gedugte jagter behoort wat bekend is as ‘n slangvanger van formaat.

Die spookvoël word selde gesien omdat hy klank kan gooi. Sy herhalende, uitgerekte ‘ooooooop’ en ‘tiek-tiek-ooooooooop’ roepgeluid help jou nie om hom raak te sien nie.

Insekte maak die grootste deel van sy dieet uit, maar as uitmuntende jagter sal hy bykans alles vreet wat hy kan doodmaak – van akkedisse, verkleurmannetjies, vlermuise, klein voëltjies en eiers tot slange.

.
‘n Spookvoël kry die meeste van sy prooi van blare en takke af

Slange
Dié voëltjies vang gereeld slange van tot ‘n meter lank en huiwer nie om groter slange aan te val nie. ‘n Spookvoël kry die meeste van sy prooi van blare en takke af en vreet dit onmiddellik of druk die lyk in ‘n doring sodat hy dit later kan eet. Prooi wat te groot is om in te sluk word in kleiner stukke opgeskeur.

Die spookvoël, Malaconotus blanchoti, is ‘n grys, groen en heldergeel voël met ‘n swart snawel en bene. Die geslagte lyk eners. Onvolwassenes het 'n gryserige kop met dwarsstrepe en is liggeel aan die onderkant.

Volwassenes se grootte en hulle swaar, haakvormige snawels skakel verwarring met die oranjebors- en swartooglaksman uit. Die heldergeel onderste dele het partykeer ‘n effens oranje skynsel oor die bors.

Hulle woon in doringveld en gemengde breëblaarboswêreld, maar sal ook in voorstedelike tuine en uitheemse plantasies langs inheemse boswêreld intrek.


Die spookvoël is ‘n grys, groen en goudkleurige voël. Dié foto’s is in die Dinokeng gebied geneem
Foto’s: Paxbell

Nes
Beide mannetjie en wyfie bou die nes, maar dit werk so: die mannetjie versamel die materiaal en die wyfie doen die eintlike bouwerk. Die nes bestaan uit ‘n wankelrige, vlak koppievormige struktuur wat uit blare, grashalms en takkies gemaak word en uitgevoer word met sagter plantmateriaal. Dit word gewoonlik in die vurk van takke, ongeveer drie tot ses meter bo die grond gebou. Spookvoëls kan ook die verlate nessies van duiwe en sperwers gebruik.

Die broeiseisoen is van Augustus tot Januarie met ‘n piek van September tot November. Die wyfie lê twee tot vier eiers en sy is die enigste een wat hulle uitbroei, terwyl die mannetjie die kos aandra. As die kuikens uitgebroei word, sal die mannetjie soms by hulle in die nes sit, maar hy is die een wat al die jagwerk doen om die kuikens te voer.

Kuikens bly vir ongeveer 20 tot 24 dae in die nes, waarna hulle tot ‘n jaar lank in hulle ouers se gebied bly.

 

© 2024 Die/The Bronberger