Jy sal hom hoor voor jy hom sien Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 March 2012 08:13
Untitled Document

Die swartkopwielewaal is ‘n voëltjie wat, ten spyte van sy helder kleure, moeilik is om raak te sien. Hy verkies ‘n habitat waar hy bo in hoë bome se blare wegkruip en die kanse is goed dat jy hom sal hoor lank voor jy hom te siene kry.

Sy harde roep is ‘n helder, vloeiende fluit, ‘poooodleeoo’, met borrelende geluide en variasies van melodieuse klanke tussen-in. Sy alarm-roep is ‘n skriller ‘kweeer’-geluid.


Dié voëltjies kom bo in die krone van bome voor en is moeilik om te siene te kry
Foto: Wikipedia

Dié lawaaierige voëls kom een-een, in pare of gemengde spesie-swerms voor in klam boswêreld met groot bome, veral breëblaar-boswêreld of gemengde bosveld, oewerbos en uitheemse bome. Hulle is baie aanpasbaar en woon ook in parke en tuine, maar vermy die droë sentrale en westelike streke van Suider-Afrika.

Die swartkopwielewaal, Oriolus larvatus, het ‘n opvallende helder geel kleur met ‘n glanserige swart kop, nek en bors. Sy snawel is koraalrooi, sy bene en voete blougrys tot swart en sy rug ‘n groenerige geel. Sy maag is helder geel en hy het swart in sy vlerke en stert met ‘n klein wit strepie op die vlerk.

Die geslagte lyk eners en het ‘n gemiddelde lengte van 25 cm. Die onvolwassenes is sonder die koraalrooi snawel en hulle koppe is donkerbruin met swart vlekke. Volwassenes vreet ‘n verskeidenheid insekte, vrugte en sade asook nektar, en die kleintjies word met ruspes gevoer. Blykbaar het die swartkopwielewaal ‘n baie vinnige verteringstydperk van ongeveer vyf minute.


Die swartkopwielewaal se nessie
Foto: Warwick Tarboton

Die nessie is ‘n losserig geweefde koppievorm wat gewoonlik in die vurk van boomtakke, ongeveer ses tot nege meter bo die grond, gebou word. Die voëltjies gebruik gras en mos om die nessie te maak en verdoesel hom met klein takkies en spinnerakke.

Die broeiseisoen is van September tot Februarie, met ‘n piek van September tot Desember. Die wyfie lê twee tot drie pienkerige eiertjies wat bruin en grys vlekke in ‘n ring rondom die dikste kant van die eier het. Die eiers neem 14 tot 16 dae om uit te broei en die kuikens verlaat die nes na 14 tot 18 dae.

 

© 2024 Die/The Bronberger