Taai kalant kan bykans alles oorleef Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 March 2012 08:12
Untitled Document

Deur die eeue heen het verskeie Afrika-stamme dié boom gebruik om doepas te maak wat epilepsie behandel. Vandag is daar wetenskaplik bevestig dat tradisionele aftreksels gemaak van verskeie dele van die gewone taaibos helende eienskappe het.

Daar is onlangs twee bioflavonoïdes in die gewone taaibos geïdentifiseer wat help met die beskerming van die menslike vaskulêre stelsel en wat ook aktiewe anti-inflammatoriese, anti-gewas en anti-hoë-bloeddruk agente is.

Dié struikagtige boom word nie sommer hoër as ses meter nie, maar bly dikwels ‘n bosagtige struik. Sy volwasse grootte word baie beïnvloed deur groeitoestande en klimaat.

Die gewone taaibos groei in die bosveld op klipperige randjies, in droë doringveld, termiethope en selfs op die rand van plantasies. Hy groei goed in Bronberg-wêreld omdat hy baie gehard is teen koue en ryp, en bestand is teen droogte. Dit is juis hoekom sy volksnaam taaibos is.


Die taaibos
Foto: inheemsebome.co.za

Nuttig
Dié boom word aanbeveel vir grondrehabilitasie en om aangeplant te word as voedsel vir wild en beeste waar daar nie blaarvoedsel is nie. Sy vruggies is eetbaar en het ‘n soet-suur smaak. Hulle sal ook voëls lok vir voer en skuiling.

Dié is ‘n bladwisselende boom met ‘n rowwe, grys stam. Hy dra piepklein, geel blommetjies in die somer en die manlike en vroulike blomme word aan aparte bome gedra. Die vroulike bome dra trosse koeëlronde klein groenerige vruggies, wat ongeveer 3-4 mm in omtrek is. Die vruggies word rooierig as hulle in die somer tot laat herfs ryp word. Daar kan soveel vruggies aan elke tak wees, dat die takke afbuig van die gewig.

Naam
Die gewone taaibos se wetenskaplike naam was voorheen Rhus pyroides, maar is nou Searsia pyroides. Dele van die boom is vir die eerste keer versamel deur Burchell op die Asbesberge in die noord-Kaap. Sy plantmonsters is vandag nog by die Royal Botanic Gardens, Kew in London.

Die genus Searsia is vernoem na Paul B Sears, die hoof van die Yale Skool vir plantkunde wat 101 jaar oud geword het. Die woord ‘pyroides’ kom van die Griekse woord ‘pyros’, wat vuur beteken en verwys na die brandende sensasie wat jy kry as dié boom se dorings jou bykom. Dit is ook waar hy een van sy eerste Engelse volksname, ‘fire-thorn currant’, gekry het.

Blykbaar het nie alles taibosse dorings nie.


Blare en vrugte
Foto: Gardengoods

Gif
Toe die gewone taaibos nog onder die Rhus plante geval het, was hy in ‘n familie waar bykans almal sterk chemikalieë bevat wat giftig is of ten minste ‘n velreaksie toon as ‘n mens aan die plant vat. Die oorsese familielede se volksname dra bykans almal die woord ‘gif’, soos ‘poison ivy’.

Tog het dié plante medisinale kenmerke wat juis gebruik word om die reaksies wat hulle gif veroorsaak, te behandel. Een van die bekendste homeopatiese behandelings, genaamd ‘Rhus Tox’, word byvoorbeeld gebruik om erge, skerp, brandende pyn, rooiheid en akute velinflammasie te behandel. Dié behandeling word gemaak van die noord-Amerikaanse ‘poison ivy’, wie se vorige benaming Rhus toxicondendron was.

Groei
Die gewone taaibos groei maklik van saad. Saai die saad in ‘n goed gebalanseerde sandmengsel en hulle sal binne drie weke ontkiem. Die sade is nie vatbaar vir swamagtige infeksies nie.
‘n Taaibos se wortels kan ‘n impak hê op strukture, plaveisel en swembaddens, afhangende van klimaatsomstandighede, grondsamestelling en grondvoorbereiding.

 

© 2024 Die/The Bronberger