Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 23 February 2012 00:58
Untitled Document

Hoekom sy naam ‘n visvanger is as hy bykans nooit vis vreet nie, sal net sy familie kan raai. Die bruinkopvisvanger is ‘n nie-waterlewende visvanger wat meestal insekte, reptiele, buideldiere en klein voëltjies vreet.

Hy val egter in die visvanger-familie saam met die reuse-, bont-, blou-, kuifkop-, dwerg-, bosveld-, manglied-, gryskop- en gestreepte visvanger. Hy word van die ander onderskei deur ‘n snawel wat bo en onder heeltemal rooi is. Om hom uit te ken van dié wie se snawels nie heeltemal rooi is nie, moet jy kyk vir sy bruinerige kop met swart strepe, rooierige vlekke aan die kante van die bors en sye vol smeerstrepe.

Die geslagte lyk eners, maar die mannetjie het ‘n swart rug, terwyl die wyfie ‘n bruin rug het. Onvolwassenes lyk soos die wyfie.


Die bruinkopvisvanger
Foto: Renier Maritz

Woon
Die bruinkopvisvanger, Halcyon albiventris, woon in doringveld, oop breëblaarboswêreld en kuswoude, maar het aangepas by voorstedelike gebiede en is heel gelukkig in tuine en parke.

Dié algemene standvoël se roep is ‘n ‘kie-tie-tie-tie’-fluit – wat kompleet soos ‘pity-for-me’ klink - en ‘n skriller skrikroep: ‘kliee-kliee-kliee’.

Jy sal die bruinkopvisvanger alleen of in paartjies sien jag. Hulle sit op ‘n uitkykpunt, soos ‘n telefoondraad, en soek op die grond na prooi. Die voël sal skielik afduik, die prooi in sy snawel gryp en terugvlieg na sy uitkykpunt toe.

Vertoon
Paartjies hou vir mekaar vertonings in die broeiseisoen. Hulle vertoon met oop vlerke, draai soos wafferse ballerinas rond en knik hulle koppe op en af terwyl hulle mekaar roep.

Beide mannetjie en wyfie grou die nes uit. Hulle maak gewoonlik gate in grondbanke, maar kan ook ‘n gat in ‘n boom gebruik. Egpaar bruinkopvisvanger begin deur eers ‘n ongeveer meter-lange tonneltjie in die grond te grou wat dan eindig in ‘n 25-30 cm wye vertrek. Die vertrek word uitgevoer deur uitgebraakte stukkies van geleedpotige insekte.

Broei
Die wyfie lê twee tot vyf eiers wat sy self, sonder hulp van die mannetjie, binne ongeveer twee weke uitbroei.

Baie min is bekend oor dié kuikens wat so half ondergronds grootword. Dit lyk asof hulle hoofsaaklik deur die wyfie gevoer word. As hulle die nessie begin verlaat, sal hulle deur beide ouers gevoer word.

 

© 2024 Die/The Bronberger