Slangpik se tradisionele moses Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 23 February 2012 00:57
Untitled Document

As ‘n slang jou gepik het of as jy wurms het; as jy koors, maagpyn of hoofpyn het, is daar een boom wat jy naby jou wil hê. Dit is die basterrooibos wat teen die noordelike hange van die Bronberg groei.

‘n Aftreksel van die blare en wortels saam is ‘n tradisionele raat vir slangbyt. Die blare word gekou of fyngemaal, in water geweek en dan word daardie water gedrink vir borskwale en om van haakwurm ontslae te raak. Dié water kan ook gestoom en ingeasem word vir borskwale.


Die basterrooibos is ‘n klein tot medium-grootte boom
Foto: BT Wursten

Kwale
‘n Aftreksel van die binnekant van die bas word gedrink of as klisteerspuit gebruik om verskeie maagkwale te behandel. Aftreksels van gekookte wortels is tradisioneel gebruik om hardlywigheid, melaatsheid, koors, disenterie en swellings te behandel. Die bas gee ‘n gom af wat gebruik word om wonde te behandel.

Die basterrooibos se hout is termiet-bestand en kan gebruik word om heiningpale, gereedskaphandvatsels en bakke waarin grondbone en mielies fyngemaal word, te maak. ‘n Rooi kleurmiddel word van die blare gemaak, en ‘n geel-bruin kleurmiddel van die wortels.

Jong blare is ‘n ligte pienk of oranjerige kleur en bedek met fluweelagtige hare. Die blare word gladder as hulle ouer en groener word. Dié fluweelagtige blare het vir die boom se Engelse naam – ‘velvet bush willow’ – gesorg. Een van sy Afrikaanse name is ook ‘n direkte vertaling daarvan – fluweelboswilg.

Die boom se blare word deur vee gevreet. Sy blomme lok bye en is goeie voeding vir heuningproduksie. Hy gee vuurmaakhout wat lank brand en ‘n hoë kwaliteit houtskool.


Die basterrooibos se geel-groen blomme
Foto: Bronberg Bewarea

Medium
Die basterrooibos, Combretum molle, is ‘n klein tot medium-grootte boom wat tot 13 meter hoog kan word. Hy het ‘n geronde kroon; sy bas is grys as die boom nog jonk is en word ‘n gryserige bruin tot amper swart as die boom ouer word.

Hy dra opsigtelike geel-groen, soet-gegeurde blomme voor die blare verskyn. Sy blomtyd is van September tot November.

Die kenmerkende gevlerkte vrugte bly aan die boom van Januarie tot Junie, of selfs langer as dit nie deur diere gevreet word nie. Die vrugte het vier vlerke, en is omtrent 20 mm in deursnee. Jong vrugte is groen met ‘n rooierige skynsel, maar word rooibruin as hulle droog word.


Jong blare en vier-vlerk vrugte
Foto: Wikipedia

Groei
Die basterrooibos groei maklik van vars sade wat nie deur insekte beskadig is nie. Sy ontkiemingsproses is nogal buitengewoon. Met ontkieming kom daar twee stingeltjies, wat aan hulle punte verbind is, uit die vrug uit. Die stingeltjies dra die saamgesmelte punt onder die grond in.

Twee saadlobbe word uit die vrug se omhulsel getrek en word op aparte stingeltjies bokant die grond gedra. As die saadlob-stingels ophou groei, begin die blaarpluimpie eers ondergronds ontwikkel. Hy groei later na die oppervlakte toe waar hy ‘n stingel met blare opstoot, terwyl die ware wortel ondergronds ontwikkel.

 

© 2024 Die/The Bronberger