Klein boompie met groot geneeskrag Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 25 January 2012 07:50
Untitled Document

Aan die noordelike hange van die Bronberg groei daar ‘n immergroen boompie wat in die lente oordadige bosse geel blomme dra. Wie sou nou kon raai dat dié swierige struik ‘n voorbeeld van ‘n suksesstorie oor die ekonomiese gebruik van Afrika se inheemse plante geword het.

Met ‘n Groengoud konferensie wat in September 2009 by Farm Inn gehou is, is daar aangekondig dat blaarekstrakte van die Magalies-rooihout bewysbare anti-bakteriese aktiwiteite het.

Dié feite is vir die eerste keer in 2009 gepubliseer in Tshepiso Jan Makhafola se proefskrif in die Phyto-medisyne program aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit van Veeartsenykunde.


Magalies-rooihout groei teen klipperige noordelike hange
Foto: plantzafrica

Peer
Die Magalies-rooihout, Ochna pretoriensis, is deel van die wilde peer-familie. Sy naam kom van die Griekse woord ‘ochne’ wat ‘wilde peer’ beteken en ‘pretoriensis’ verwys na Pretoria, waar dié boom vir die eerste keer aan die hange van die Magalies opgeteken is.

Die Ochnaceae-familie bestaan uit omtrent 30 genera en 250 spesies wat wêreldwyd voorkom. Twee genera, Ochna en Brackenridgea, wat uit 13 spesies bestaan, is inheems in suidelike Afrika.


Die aantreklike geel blomme
Foto: plantzafrica

Mooi
Die Magalies-rooihout is een van die mooiste immergroen struike in die noordelike dele van Suid-Afrika, hoofsaaklik oor sy opmerklike geel blomme en rooi vrugte. Die bosagtige struik of klein boompie kan tot twee meter hoog word. Hy het meer as een stam en die stamme en takke het ‘n rowwe bruin bas, wat afkom in smal stroke. Die hoofstam is ‘n ligte grys kleur wat bedek is met wit skorsporie.

Sy blare is donkergroen, maar nuwe groei het altyd ‘n brons tint. Die geel blomme het vyf blomblare. Wanneer die blomblare afval, bly vyf kelkblare oor wat bloedrooi word wanneer die vrugte verskyn. Die vrugte is aanvanklik groen, maar word ‘n glanserige swart kleur in die somer.

Dié vrugte en geurige blomme sal baie voëls en insekte na ‘n mens se tuin lok.


‘n Blom van naderby
Foto: project Noah

Groei
Dit is maklik om die Magalies-rooihout se saad te laat ontkiem as die vars saad versamel word voor die vrugte heeltemal ryp is. Saai die sade in ‘n saailingmengsel en plaas in ‘n beskutte plek. Hou die mengsel klam.

Die sade sal na omtrent 10 dae ontkiem. Saailinge het baie sonlig nodig. Hulle groei so stadig dat onkruid in jou saailingbak gou groter as die saailinge word. Trek die onkruid maar gereeld uit.


Die vrug
Foto: project Noah

 

© 2024 Die/The Bronberger