Hy vat meer as sy eie portuur aan Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 14 December 2011 08:20
Untitled Document

Moenie dat die bandkeelvink se piepklein postuur jou fnuik nie. Dié is ‘n aggressiewe outjie wat nie sal huiwer om meer as sy eie portuur aan te vat nie.

Dié vinkies verdedig hulle self nie net teen groter voëls nie; as hulle ‘n ander voël se nessie wil hê, gooi hulle die eiers of kuikens uit en neem die nes oor. Bandkeelvinke het glo ‘n Dr-Jekyll-en-Mr-Hyde persoonlikheid – in die broeiseisoen is hulle aggressief, maar buite die broeiseisoen is hulle kalm en saggeaard in kolonies van gemengde spesies.


‘n Bandkeelvink kuiken

Die bandkeelvink, Amadina fasciata, val in die Estrildidae familie saam met die frette, vinke en baardmannetjie. So ‘n vinkie is maar 12 cm hoog en weeg ongeveer 18 gram. Die mannetjie het ‘n rooi band oor die keel, vandaar sy Engelse naam ‘cut-throat finch’. Sy verekleed is grootliks bruin met duidelike swart-en-wit dwarsstrepe en vlekke. Hy het ‘n wit ken en wange en ‘n bruinerige vlek op die maag. Die bene is ‘n vleesagtige pienk kleur. Die wyfie het nie die rooi band nie. Sy het duidelike dwarsstrepe op die kop en smeerstrepe en spikkels op die rug.

Mannetjie en wyfie neem saam deel aan die nes-oornemery van ander voëls, soos die rooikopwewer, buffelwewer of houtkappers. Hulle sal die ou nessies saam met vere uitvoer. As hulle ‘n nuwe nes bou, word gras gebruik vir die buitekant met ‘n kort ingangstonneltjie.

Die broeiseisoen piek van Desember tot April en die wyfie lê twee tot sewe wit eiers wat deur albei ouers uitgebroei word. Die kuikens broei na so 12 tot 13 dae uit en verlaat die nes na 21 tot 23 dae. Hulle is binne twee tot drie weke daarná heeltemal onafhanklik.


‘n Bandkeelvink wyfie en mannetjie, met die rooi band om sy keel

Bandkeelvinke vreet gras- en ander sade en elke nou en dan ‘n insek of twee. Hulle vliegroep is ‘n ‘eee-eee-eee’-geluid en hulle kan 12 jaar oud word.

Dié Afrika-voëltjies is gewild as kouvoëls in Europa, Amerika en Australië. Die spesie is gelys in CITES (Convention on International Trade in Endangered Species of wild fauna and flora). Nuwe strenger wetgewing met addisionele papierwerk en permitte maak dat dit deesdae baie moeiliker is vir die oorsese mark om bandkeelvinkies in te voer.

In Europa is verskeie mutasies van dié voëltjies geteel – van ‘n soort met ‘n geel band onder die keel tot ‘n spierwit voëltjie met ‘n rooi band onder die keel. In gevangenskap sal bandkeelvinkies met rooikopvinke teel en dié nasate is vrugbare kruistelings.

 

© 2024 Die/The Bronberger