?n Termiet-vreter met ?n vrees vir miere Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 17 October 2011 09:56
Untitled Document

In Bronberg-wêreld woon daar ‘n piepklein poeierblou voëltjie wat paranoïes is oor miere wat in bome bly. Tog is sy stapelvoedsel termiete.

Wanneer die gewone blousysie nesbou, maak hy en sy wyfie seker dat daar reeds ‘n perdebynes in die boom is. Blykbaar is dit nie omdat perdebye roofdiere weghou nie, maar omdat só ‘n nes wys dat daar nie boomklimmende miere is wat die kuikens skade sal aandoen nie.

Die blousysie maak nes in doringbome, veral sambreeldoring en sekelbos, en as hulle nie ‘n perdebynes kry nie, besluit hulle bloot om ‘n ander paartjie se skynbaar mierlose nes oor te neem.

Hulle gebruik veral die nessies van rooikeelsuikerbekkies, brilwewers of swartbandlangstertjies. Die langstertjies se nessie word net as basis gebruik en die blousysie bou ‘n nuwe struktuur bo-op die oorspronklike nessie.


Gewone blousysie
Foto: Wikipedia

Die nessie word deur beide mannetjie en wyfie gebou en is ‘n ovaalvormige struktuur met ‘n kort ingangstonneltjie aan die kant. Hy word gebou met grasstammetjies en blomstingels en word uitgevoer met vere.

Die broeiseisoen piek in Januarie, of ongeveer twee maande ná ‘n tydperk van swaar reënval. Die wyfie lê twee tot sewe eiers, wat vir 11 tot 12 dae deur beide ouers uitgebroei word. Beide ouers voer ook die kuikens op ‘n dieet van grassade en termiete. Die kleintjies verlaat die nes ná 17 tot 21 dae. Hulle kan binne ‘n week na hulle self begin omsien en na nog ‘n week is hulle heeltemal onafhanklik.

Die gewone blousysie, Uraeginthus angolensis, is 13 cm lank en weeg ongeveer nege gram. Hy het 'n poeierblou gesiggie en bors, muisgrys kop en bodele, met ligbruin pote en bene. Sy bekkie wissel tussen ligblou en pienk. Die wyfie is 'n ligter weergawe van die mannetjie en het ‘n kleiner blou area op die keel.

Die voëltjies beweeg in pare in die broeiseisoen, maar andersins in groterige swerms van 40 of meer individue. Blousysies wei meestal op die grond maar kan ook insekte in vlug vang. Hulle stapelvoedsel is termiete en sade, maar hulle vreet ook klein bessies en vrugte. Hulle drink gereeld water en nektar.
Die blousysie se roep is 'n sagte “kwai-kwai-sree-seee-seee-seee”.

 

© 2024 Die/The Bronberger