Wildesering enig in sy soort Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 17 October 2011 09:55
Untitled Document

Die wildesering is een van die heel moeilikste bome om te kweek. Daarom dat daar so min van hulle op ‘n kommersiële skaal te kry is. Dié spesiale bome is eensoortig; hulle is ’n monotipiese genus wat beteken dat die genus slegs uit een spesie bestaan.

Dié spesie het ‘n hele aantal tradisionele gebruike wat in vandag se dae heel aardig klink. Sy bas is giftig en ‘n konkoksie van dié giftige bas is blykbaar baie nodig as ‘n Boesman jou met ‘n pyl geskiet het. Dit dien as ‘n teenmiddel teen pyl-gif.

Fyngekapte bas word ook gebruik om visse te verlam. Blykbaar gooi jy dié stukke bas in ‘n dam en gaan skep dan soveel visse as wat jy wil. Die bas is ryk aan alkaloïede, ‘n swart kleursel en tannien, wat gebruik word om leer te looi.


Wildesering

Die boom se wortels word gebruik om maag- en tandpyn te behandel. Vir beide behandelings word die omhulsel van die wortels weggeskraap; die wortels word dan in stukke van omtrent 50 mm gesny en vir vyf tot 10 minute lank gekook.

As jy dit vir maagpyn wil gebruik, moet jy die aftreksel laat koud word en drie koppies ‘n dag daarvan drink. Vir tandpyn, moet jy die vloeistof gebruik terwyl dit nog warm is. Jy moet dit vir omtrent drie minute lank in jou mond, rondom die seer tand spoel en dan uitspoeg. Dié prosedure moet drie keer ‘n dag herhaal word.

Aftreksels word ook gemaak om hoes, verkoue, gonorree en sifilis te behandel.

Die boom se hout is so hard dat dit gebruik word om sterk konstruksie-stutte, mynstutte en treinspore se dwarsbalke te maak. Die kern- of pithout word gebruik vir blokkiesvloere en meubels. Dit het ‘n redelike fyn, golwende grein wat donkerbruin tot rooibruin vertoon.


Hy dra geurige room-wit blomme

Die wildesering is ‘n medium grootte boom van ongeveer agt meter hoog wat geurige room-wit blomme dra. Hy het ‘n enkele stam en sy kroon is gewoonlik plat, tipies soos Eerste Nasionale Bank se kenteken.

Sy wetenskaplike naam, Burkea africana, kom van die bekende versamelaar, Joseph Burke, wat in die 1840’s plante in die Magaliesberg-gebied bymekaargemaak het.

Die boom groei goed in diep, sanderige grond. Die enigste manier om hom te kweek wat soms suksesvol kan wees, is om die sade te beskadig. Jy kan gaatjies in die sade druk, hulle met skuurpapier skuur of met ‘n hamer kraak. Dit help nie om die sade in kookwater of chemiese middels te week nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger