Die groot vyf is nou ?n katspoegie ver Print E-mail
News - Ons Omgewing
Thursday, 22 September 2011 11:13
Untitled Document

Die Dinokeng Groot Vyf-wildtuin, noord van Cullinan, word amptelik op 22 September geopen. Dit maak die nuwe oorkoepelende Tshwane metroraad die enigste munisipaliteit ter wêreld met ’n Groot Vyf-reservaat.

Ná tien jaar se beplanning maak die reservaat sy hekke oop met ’n familiegroep van tien olifante en agt leeus. Gautengse premier, Nomvula Mokonyane, sal die opening waarneem.

Daar is reeds luiperds en witrenosters en ’n trop buffels sal teen die einde van die jaar daar gevestig te wees.


Wildbesigtigingstoere

Die Dinokeng Groot Vyf Wildtuin bestaan uit individuele stukke grond in private besit. Die aanvanklike fase, wat uit ongeveer 12 500 ha bestaan het, is tot 18 500 ha vergroot in 2010 en word deur 271 grondeienaars besit. Daar is ‘n verskeidenheid oornag-geriewe, vanaf kampering tot vier en vyfster verblyf.

Dinokeng is ‘n Blue IQ inisiatief wat deur die Gautengse Provinsiale Regering daargestel is. Dit word deur grondeienaars bestuur.

Etienne Toerien, voorsitter van die Dinokeng-bestuursvereniging en mede-eienaar van die Mongena Game Lodge, het gesê die nuwe leeus wat in die wildtuin aangekom het, is eers vir so ses weke in ’n boma gehuisves om aan mekaar en die grensdrade gewoond te raak voordat hulle vrygelaat is.

Die leeus bestaan uit twee groepe van twee mannetjies en twee wyfies elk wat van die Pilanesberg-reservaat in Noordwes en die Welgevonden-reservaat in Limpopo kom. Die olifante kom van die Makalali-reservaat naby Hoedspruit.


Die splinternuwe ingangshek na die Dinokeng Groot Vyf Wildtuin

Vir die eerste jaar sal die diere met satelliet-opsporingshalsbande toegerus word om hul bewegings binne die reservaat te monitor. Mongena Game Lodge sal die monitering van die leeus behartig en Kwalata-wildreservaat dié van die olifante.

Die uiteindelike plan vir Dinokeng is ’n wildtuin wat meer as 90 000 ha sal beslaan, wat die Rust de Winter-dam sal insluit en oor drie provinsies, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo, sal strek.

 

© 2024 Die/The Bronberger