Hulle babbel, bou en broei almal saam Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 23 July 2011 01:03
Untitled Document

Daar is nie ‘n manier dat jy nié sal weet wanneer ‘n swerm pylvlekkatlagters in jou tuin kom sit nie. Dit is van die Babelse verwarring van hulle gebabbel waar die voëls hulle Engelse naam ‘babbler’ kry. Dié swerm raas egter nie net saam nie, hulle bou saam nes en help mekaar selfs om eiers uit te broei.

Die pylvlekkatlagter lewe saam in sosiale groepe van tot 15 voëls wat groot gebiede beskerm. Tog soek hulle graag saam met ander katlagters of selfs tiptolle kos en lig blare op om te kyk wat daar onder wegkruip. Hulle voer meestal van die grond af en vreet insekte, spinnekoppe, soms slakke en akkedisse, sowel as vrugte.


Die pylvlekkatlagter
Foto: Wikipedia

Dié voëltjies is koöperatiewe broeiers wat saam onnette koppievormige nessies uit takkies, droë gras, plant- en blaarstingels bou en uitvoer met sagter materiaal. Die nessies word in ‘n boomtak tussen digte blare, in ‘n bos, riete, holte in ‘n dooie boom of selfs op ‘n hoop dryfhout gebou.

Mannetjies het meer as een wyfie en hulle broei dwarsdeur die jaar, maar die broeiseisoen piek van September tot April. Twee tot vyf blou-groen eiers word gelê en elke liewe lid van die swerm maak beurte om op dié eiers te sit. Ná so 13 tot 17 dae broei die kuikens uit en hulle word deur alle swermlede versorg. Die kuikens verlaat die nes na omtrent 18 tot 21 dae. Hulle neig om die nes vroeër te verlaat as die swerm groter is.


‘n Nessie met eiers
Foto: Warwick Tarboton

Die pylvlekkatlagter, Turdoides jardineii, kry sy naam van die wit pylvlekke op sy kop, keel en bors. Sy vere is ‘n gryserige bruin aan die bokant met ligter vere aan die onderkant. Hy is 22-25 cm lank en weeg 56-85 gram.

Die geslagte lyk eners; beide mannetjies en wyfies het ‘n rooi rand rondom ‘n geel oog, maar onvolwassenes se oë is bruin.

Hulle roep is ‘n harde ‘tjou-tjou-tjou-tjou’ waar etlike voëls gelyk roep.
 

© 2024 Die/The Bronberger