Honderde spinnekoppe spin plant toe Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 23 July 2011 01:02
Untitled Document

Danie en Aletia van Hengel van Zwavelpoort het ‘n groot verrassing gekry toe hulle een oggend niksvermoedend in die tuin kom. ‘n Reuse spinnekopnes het oornag verskyn en waar die vorige aand nog ‘n opgeskote aalwyn gestaan het, was iets wat amper soos ‘n kokon toegespin is.

Aletia vertel dat die nes bestaan het uit duisende klein spinnekopneste wat elkeen net een spinnekop in gehad het. Danie en Aletia woon op plot 306, Zwavelpoort, teen die Bronberg.

Volgens Astri Leroy van die Spinnekopklub van Suid-Afrika, is dié spinnery die werk van die tropiese tentweb-spinnekop, Cyrtophora citricola. Dié spinnekoppe is sub-sosiaal en anders as die meeste spinnekoppe, gee hulle nie om as hulle spinnerakke reg teen mekaar gebou word nie.


Die aalwyn is oornag toegespin
Foto’s: Danie en Aletia van Hengel

Tog is tropiese tentweb-spinnekoppe nie ware sosiale spinnekoppe nie, omdat hulle op geen manier saamwerk nie. Dit blyk dat hulle bloot net mekaar se geselskap geniet.

Astri, mede-outeur van ‘Spiders of Southern Africa’, sê dit lyk asof honderde klein spinnekoppies terselfdertyd uitgebroei het. ‘n Moeder tropiese tentweb-spinnekop kan tot ‘n dosyn syagtige eiersakkies vervaardig, wat sy dan in die middel van haar spinnerak hang. As al die eiers van net een van die sakkies op dieselfde tyd uitbroei, sal daar honderde klein spinnekoppies wees wat dadelik begin spinnerakke spin.


Die spinnerak van nader beskou

Dié soort spinnekop verkies om hulle tuiste in doringagtige plante soos aalwyne, doringbome en kaktusse te maak. Sommige van dié piepklein spinnekoppies sal vir ‘n paar jaar lewe en hulle spinnerakke uitbrei tot die horisontale deel omtrent 600 mm in deursnee is met ankerlyne bo en onder die hoof-web.

Die tropiese tentweb-spinnekop se kleur varieer; party is swart en wit, terwyl ander bruin is en mannetjies lyk soms swart. Wyfies word omtrent 10 mm lank, terwyl mannetjies slegs 3 mm lank word. Volwasse mannetjies bou nie spinnerakke nie en hou op vreet. Hulle gaan kort ná paring dood.
Vir meer inligting oor die Spinnekopklub, skakel 011-958-0695, stuur ‘n e-pos aan This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.spiderclub.co.za.

 

© 2024 Die/The Bronberger