Die Bronberg se blou-apies
word elke nou en dan raakgery en was al verantwoordelik vir ’n paar motorongelukke in
Zwavelpoort. Hulle word oor die
algemeen as verpesting op die
plotte gesien, waar hul intelligensie
aangewend word om soveel vrugte
as wat hulle kan, te gaps.
Die kenners sê deesdae dat dié
diertjie se intelligensie nog altyd
onderskat is. Studies is gedoen wat
blou-ape se geluide in 19 verskillende
kategorieë opdeel. En dan
hang die geluid se interpretasie ook
nog af of dit met ’n toe mond of
met tande-wys gepaard gaan.
So het hulle drie verskillende waarskuwingsroepe vir landsroofdiere,
slange en voëls. Die kenmerkende
’nkau’-roep van die volwasse mannetjie
is die bron van die aap se
Zoeloenaam.
Hulle het geluide wat beteken
kom-ons-begin-nou-beweeg, ’n wye
reeks aggressie geluide wat elk iets
anders beteken en net so ’n wye
reeks geluide wat ma en kleintjie vir
mekaar maak. Kleintjies, van die os
op die jas, kan soos ’n kat spin as
hulle gelukkig is.
Zwavelpoortse blou-ape op ’n muur in
Sainststraat
Foto: Die Bronberger, Julie 2009
Liggaamstaal
Die reeks geluide gaan gepaard, of
nie, met liggaams- en gebaretaal
waarvan die kenners al agt afdelings
onderskei het. Een van dié is stertposisie.
Die posisie van die stert as
’n aap op al vier bene staan, wys
hoeveel selfvertroue hy het.
’n Bang aap se stert loop parallel
met die grond. Hoe hoër die stert
op beweeg, hoe beter voel die
outjie oor homself. Die wat werklik
in hulle noppies met hulself is se
sterte krul heeltemal om sodat dit
parallel bo-oor die lyf staan.
Die gekompliseerde reeks kommunikasiemaniere
het ontwikkel omdat
die blou-aap in hegte sosiale groepe
saamleef. Tropgrootte is 20 tot 30
lede en tropsamehang is rondom ’n
dominante wyfie.Wyfies vorm ’n
liniêre dominansie hierargie waar
die dogters hulle rang van hulle
moeders erf.
Mannetjies emigreer met die aanvang
van puberteit. Hulle
trek van trop tot trop, en
spandeer omtrent drie jaar
in ’n trop voordat hulle
weer aanbeweeg.
Mannetjies en wyfies se
hiërargië is verskillend; slegs die
mannetjies van hoër rang het toegang
tot bronstige wyfies.
Volwasse mannetjies toon geen
belangstelling in kleintjies nie, maar
jong mannetjies sorg dikwels vir
kleintjies. ’n Ma sal toelaat dat
ander wyfies haar kleintjie hanteer,
maar dié in die laer rangorde kry
nie maklik ’n kinderoppasser nie.
Dit lyk asof ander wyfies veel eerder
hoë-rangorde wyfies se kleintjies
versorg.
Grense
Troppe het goed-gedefinieerde
groepsgebiede met duidelike grense. Sosiale hegtheid gebeur deur onderlinge versorging van mekaar se
pelse wat seker ook goed is vir die
bloeddruk. Hoë bloeddruk kom
blykbaar van nature onder ape
voor.
Die blou-aap, Cercopithecus aethiops, is ’n primaat van gemiddelde
grootte. Mannetjies word gemiddeld
115 cm lank en weeg 5,5 kg, waar
wyfies slegs 105 cm lank word en
gemiddeld 4,1 kg weeg.
Hulle pels is liggrys, maar die penspels en die binnekante van die
ledemate is roomkleurig tot wit. Die
gesiggie is swart, omkring met ’n wit
band wat dwarsoor die voorkop
strek en met die wange afloop. Dié
aap kry sy naam van die volwasse
mannetjies se skrotum wat helderblou is.
Slaap
Blou-ape is omnivore, en vreet vrugte en groente tot insekte, klein gewerwelde diere en voëleiers. Hulle
is aktief in die dag en slaap snags in
bome of op kranse. Hulle lewensverwagting kan tot 22 jaar wees. |