’n Rooivink wyfie sal haar kroos
se veiligheid in gevaar stel solank
sy oortuig is daarvan dat die
mannetjie wat sy gekies het, goeie
gene aan haar afstammelinge, of dié
van hulle wat oorleef, sal oordra.
Navorsingstudies oor rooivink wyfies
het gewys dat hulle eerder in ’n
groot rooivink-harem sal bly, wat
meer roofdiere lok, as om ’n mannetjie
te kies wat net een of twee
nessies vir wyfies bou waar hulle
betreklik veilig sal wees.
Die studies het tot die gevolgtrekking
gekom dat wyfies ’n mannetjie
wat baie nessies bou sien as een
met die beste gene. En dat hulle
glad nie omgee om ander wyfies in
dié harem te verwelkom nie.
Die rooivink sonder sy broeikleed
Foto: Trevor Hardaker
Die rooivink mannetjie is veelwywig
en hy help nie met die uitbroei van
eiers of die voer van kuikens nie. In
daardie opsig kompeteer die wyfies
dus nie vir sy aandag nie en die
kenners sê dis hoekom hulle nie
ander wyfies wegjaag nie. Die mannetjie
is egter baie territoriaal en
spandeer ’n groot deel van sy dag
daaraan om sy gebied teen ander
mannetjies te beskerm.
Die rooivink mannetjie kan drie tot
tien wyfies per broeiseisoen hê. Hy
bou drie tot 13 nessies, waar dit een
tot drie dae neem om ’n enkele
nessie te bou. Die nessie is ’n kompakte
ovaalvormige struktuur met ’n
kant-ingang wat deur ’n klein afdakkie
beskerm word. Dit word uit
riete en gras aan biesies, rietstande
en palmiete vasgeweef, en soms ook
in oeslande.
Rooivinke kan dwarsdeur die jaar
broei, maar hul broeitydperk piek
tussen November en Februarie. Die
wyfie lê een tot vyf eiers wat sy binne
12 tot 13 dae uitbroei. Die kuikens
word deur die wyfie gevoer en
verlaat die nessie na ongeveer 11
tot 15 dae.
Die rooivink in sy broeikleed
Foto: Wikipedia
Dié groeplewende voëltjies bly gewoonlik
naby water in grasveld en
savanne. Hulle voer in swerms en
vreet hoofsaaklik sade en plantmateriaal
en nou en dan ’n insek.
Die rooivink, Euplectes orix, is ongeveer
14 cm lank. Die broeiende
mannetjie lyk baie soos die vuurkopvink,
maar het ’n swart voorkop
en kroon en bruin primêre vere
waar die vuurkopvink se broeiverekleed
’n donkerder mantel het,
swart primêre vere en ’n rooi, nie
swart nie, voorkop en kroon.
Die wyfie, nie-broeiende rooivink
en onvolwassenes is moeilik onderskeibaar
van soortgelyke verekleedstadiums
van die goudgeelvink. Die
rooivink het egter swaarder
gestreepte en donkerder onderste
dele.
Hul normale vliegroep is ’n ‘tjeettjeet’,
maar die mannetjie sing ’n
zoemende, tjirpende sang wanneer
hy vertoon. |