Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 21 March 2011 19:25
Untitled Document

Swartbas is ’n veeldoelige boom om in die tuin te hê. Met sy rooi bessies maak hy ’n goeie aksent-punt; as jy ’n spesiale geurtuin beplan, is sy blommetjies ideaal; en as jy ’n voëlliefhebber is, sal dié boom menige spesies naderlok.

’n Aftreksel van dié boom se blare en wortels kan gebruik word om vel-uitslae te behandel en ’n basaftreksel word gebruik as klisteerspuit om menstruele pyn, impotensie en onvrugbaarheid te behandel.

Sy blare is goeie voer vir koedoes, klipspringers, njalas, grysbokkies en vee, en sy sterk hout word gebruik om gereedskap en implemente soos pikhandvatsels te maak. Dit is ook gebruik om jukke mee te maak in die dae toe osse nog die lande omgeploeg het.


’n Medium-grootte voorbeeld wat goed teen berghange aard

Blykbaar is dié boom se geel-wit hout met sy bruin strepe so sterk omdat hy ’n nefie van ebbehout is. Die swartbas, Diospyros whyteana, is deel van die Ebenaceae familie, waarin ebbehout ook voorkom. Slegs twee genera is inheems in Suid-Afrika, Euclea en Diospyros. Diospyros sluit die jakkalsbessie, verskeie bloubosse, bostolbos en swartbas in.

Die genus naam ‘Diospyros’ is afgelei van die Griekse term ‘heilige peer’. Die spesie-naam ‘whyteana’ is ter ere van Alexander Whyte, gebore 1834 en oorlede in 1908. Dié Skotse plantkundige was Malawi se regeringsbotanikus onder die Sir Harry Johnston-administrasie van 1891 tot 1895.

Swartbas kan ’n immergroen struik wees of ’n klein tot medium-grootte boom van twee tot sewe meter hoog. Hy het meer as een stam en die bas op jong takke is gelerig tot pienk en bedek met fyn koperkleurige hare. Ouer takke is haarloos en het ’n swarterige grys kleur, vandaar die naam Swartbas.

Geurige blomme wat van harige stingels hang verskyn in die lente. Hulle is klokvormig en ’n wit tot romerige geel kleur. Manlike en vroulike blomme word aan verskillende bome gedra. Die vrugte, wat dwarsdeur die somer aan die boom gedra word, is vlesige bessies wat bloedrooi word as hulle ryp is. Hulle is toegevou in ’n ballonnetjie wat soos ’n blaasagtige kapsule lyk, vandaar die boom se Engelse naam, ‘Bladdernut’.


Swartbas kom ook as ’n ruie struik voor as hy van jongs af gesnoei word
Foto’s: Wikipedia

Voëls soos kwêvoëls, tiptolle, houtkappers, die geelbekbosduif en papegaaiduif is mal oor dié boom se vrugte. Die vrugteseisoen is van Desember tot Mei en die vrugte begin van Februarie af ryp word. Die voëls sal die eerstes wees om die papieragtige ballonnetjie rondom ryp vrugte oop te breek. Dié ballonnetjies droog uit tot ’n rooi kleur en bly vir baie maande aan die boom, lank nadat die vrugte reeds afgeval het.

Die swartbas reageer goed op snoei en kan dig groei as ’n heining. Jy kan hom in ’n pot plant en hy is ’n goeie spesie om ’n bonsai van te maak.

Hy groei stadig, maar kan maklik van saad gekweek word. Die sade moet eers geskraap word voor jy hulle saai. Vars sade ontkiem binne vier tot agt weke.

 

© 2024 Die/The Bronberger