Monsterslang jaag Wapadranders laatnag op hol Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 28 February 2011 08:09
Untitled Document

’n Luislang het Wapadranders in die middernagtelike ure van Donderdag 20 Januarie behoorlik op hol gehad.

Die slang-vang avontuur het omstreeks 10 uur die aand begin toe Riekie le Roux ’n groot slang oor Disselboomweg sien seil het. Nog ’n Wapadrander, Anke Viljoen, het langs die pad stilgehou en toevallig ’n slangvanger geken. Sy het haar gebel. Ja, ’n vroulike slangvanger, genaamd Stephanie Kendall.


Die luislang is gewaar toe hy oor Disselboomweg geseil het
Foto’s: Riekie le Roux

Stephanie het dadelik uitgekom, die slang is teen ’n muur vasgekeer, in ’n vervoersak gesit waarna hy na ’n plek van veilige bewaring geneem is. Dit was die plan om die slang in die Groenkloof Natuurreservaat vry te laat.


Die luislang is vasgekeer teen die muur

Slangvanger Stephanie het vertel dat nog ’n luislang ’n week voor Wapadrand se luislang aangekeer is, in Lynnwoodweg gevang is. Die Wapadrandse luislang was 2,5 meter lank. ’n Volwasse luislang kan tot ses meter lank word.

Die gewone luislang, Python sebae natalensis, is die grootste slang wat in die bosgebiede van Suider-Afrika voorkom. Jong luislange vreet grootliks knaagdiere. Dié slang se prooi word al hoe groter soos die slang groei tot die volwasse slang kleiner boksoorte begin vang.


Só is hy aangekeer

Prooi word eers gebyt, waarna die luislang hom so styf as moontlik om die dier krul om hom uiteindelik te versmoor. Ná die dier se dood, sal die luislang hom kop eerste begin insluk. Luislange is nie giftig nie.


Hy word in ’n sak gesit om vervoer te word

Die luislang is ongewoon in die slangfamilie omdat die wyfie in die broeitydperk by haar eiers bly. Sy lê van Oktober tot Desember broeisels met 15 tot 100 eiers wat sy warm hou en slegs verlaat op soek na water. Die eiers vat twee tot drie maande om uit te broei en die wyfie vreet glad nie in dié tydperk nie.


Van links na regs is Wapadrander Riekie le Roux, slangvanger Stephanie Kendall, Harry Marcus, Simon Vosloo en Anke Viljoen met die luislang veilig in die sak

Sy verlaat die eiers eers so 24 uur voor die klein slangetjies, van 50 tot 60 cm lank, uitbroei. Sommige bronne sê dat sy haar kleintjies nog twee weke nadat hulle uitgebroei het, beskerm.

 

© 2024 Die/The Bronberger