Al ooit gewonder hoekom ’n
flap so ’n lang stert in die
broeiseisoen groei? Nee, sê
die kenners; dit is nie omdat flapwyfies
dink dis mooi nie.
Navorsers het ’n klomp flap-mannetjies
gevang, hulle sterte in verskillende
lengtes gesny en toe weer
tussen die wyfies losgelaat. Die
eerste feit wat aan die lig gekom
het, was dat die mannetjies met die
korste sterte makliker hul gebied
verloor het as lang-stert mannetjies.
Tog was daar glad nie ’n verskil in die hoeveelheid wyfies wat in die
kort- en langstert-mannetjies se
gebied gebroei het nie. Onthou dat
die flap meer as een wyfie in ’n
broeiseisoen het. Sy gebied is 0,1
tot 0,2 hektaar groot en hy broei
daar saam met ongeveer vier wyfies.
Blykbaar is die ding wat flap-wyfies
beïndruk, die hoeveelheid nesrame
wat die mannetjie begin bou. Sy
sien waarskynlik nie eers sy flambojante
stert raak nie. Navorsers het
tot die gevolgtrekking gekom dat die
lang stert se doel is om ander mannetjies
te intimideer. Dié met die
langste sterte spog met die grootste
gebiede.
Die witvlerkflap, Euplectes albonotatus,
is die enigste flap in die streek
waarvan die mannetjie wit op die
primêre dekvere het. Die broeiende
mannetjie is pikswart met net ’n
klein geel stukkie op sy skouervere.
Sy snawel is dan ’n ligte blou-grys
kleur.
Witvlerkflap
Foto: Leon,
Birdforum
As hy nie sy broeikleed aan het nie,
is die vaalbruin mannetjie steeds
geel op die skouers en het ’n wit
vlek aan die basis van die primêre
vere. Sy snawel is dan horingkleurig.
In die broeiseisoen is die mannetjie
se bene en voete swart en as hy nie
broei nie is hulle ’n pienkerige bruin
kleur.
Die wyfie het swarterige strepe op
’n ligte bruin agtergrond, maar minder
smeerstrepe as ander flappe en
is onder baie ligkleurig. Nie-broeiende
voëls vreet in groot
swerms, baie keer saam met ander
saadvreters. Hulle vreet meestal
grassade, maar sal ook nektar drink
en insekte vreet.
Die witvlerkflap bly in grasvelde en
word gereeld op padskouers en die
rand van lande gesien. Dié algemene
standvoël se roep is ’n nasale
zeh-zeh-zeh geluid en ’n herhalende
witz-witz-witz.
Hulle broei van Desember tot
Maart. Die nessie is ovaalvormig
met ’n ingang bo aan die kant, en
word ongeveer 1,3 meter bo die
grond met grashalms geweef. Dis
nie ’n baie netjiese nessie nie, maar
is goed gekamoefleer deurdat
omliggende grashalms ook sommer
saamgeweef word in die nes. Die
wyfie voer die binnekant van die
nes met fyn grassies uit.
Twee tot vier eiers word gelê wat
oor 12 tot 14 dae deur die wyfie
uitgebroei word. Die kuikens bly 11
tot 14 dae in die nes. Die witvlerkflap
word deur die Diederik geparasiteer. |