Die wonderlikheid van winter Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 24 July 2023 08:00
Untitled Document

Buks Dom Boer Barnard van Elandshoek

Vir Dom Boer is die heel lekkerste seisoen in die lente die lente; in die somer die somer, in die herfs die herfs, maar in die winter is winter sonder twyfel die heel lekkerste seisoen:
• In die winter is daar geen of baie min slange, muskiete, bosluise, brommers en vlieë.
• In die winter is daar die heerlikste geregte soos dik groentesop, boontjiesop, gortsop, allerlei bredies en dinge soos beesstert of wildsvleis wat stadig en lank op die Welkom Dowertjie kook en ’n salige geur deur die huis versprei.
• Wintertyd is biltongtyd sing die skitterende, miskende Afrikaanse sanger, Danie Pretorius – en hy is natuurlik heeltemal reg. (Hy was ook die skepper van ‘Ver in die ou Kalahari’.)
• In die winter is daar slapenstyd ’n beker warm drinksjokolade of hoendernoedelkoppiesop.
• In die winter hoef jy nie elke week gras te sny nie.
• In die winter is daar ertjies, spinasie, blaarslaai en kool in die tuin.
• In die winter krul die papier uit die drukker nie op sodat alles oral op die vloer neerdwarrel en jy dit dan moeisaam in volgorde moet uitsoek nie.
• In die winter is daar ’n gesellige en verwelkomende vuur in die Welkom Dowertjie sodat jy elke nou en dan uitgaan net om terug te kom in die warmte.
• In die winter is daar op die Welkom Dowertjie ’n ketel moerkoffie wat jou met ’n vriendelike, outydse geur verwelkom elke keer as jy van buite af inkom.
• In die winter wys die groen kolletjies op die grond jou presies waar waterpype op die plaas lek sodat jy dit sonder te veel grawe kan herstel.
• In die winter is daar aan jou eie bome nartjies en lemoene sodat jy vars, gesonde lemoensap kan uitdruk – sonder enige bymiddels of bybedoelings.
• In die winter is dit strooptyd op die plaas met sy besondere reuke, gerase, geskarrel en gevoel van voorspoed en oorvloed.
• In die winter hou peskom se BEEurtkrag geen bedreiging in nie, want die warmhartige Welkom Dowertjie is heeldag en saans vuur-en-vlam gereed vir elke kosmaaktaak.
• In die winter raak jy snags snoesig aan die slaap sonder die nodigheid om telkens sweetdeurdrenkte kussings om te draai en om te ruil om ’n koeligheidjie te soek.
• In die winter word die wasgoed woerts-warts deeglik droog aan die draad.
• In die winter verstaan ’n mens Eugene Marais se skitterende gedig, ‘Winternag’, beter – en dit is al genoeg.
• In die winter het ’n mens meer begrip vir die opofferings wat ons voorouers gemaak het om vir ons ’n eerbare, trotse geskiedenis na te laat – die vroue en kinders siek en sterwend met die skamele beskutting van verflenterde uitskottente en die mans en seuns, tot die dood toe moeg, honger en sonder beskutting in die oop veld – maar steeds onwrikbaar vegtend vir vryheid en vir reg.


Al het ons nie sneeu nie, het ons die eerste keer ryp op die trampolien,
sê Emma Koekemoer van Rayton

Dit is vir Dom Boer die wonderlikhede van die winter. Vra hom in die lente oor die lieflikheid van die lente; in die somer oor die seëninge van die somer; en in die herfs oor die heerlikheid van die herfs – ’n hele jaar vol opwinding en rede vir dankbaarheid.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger