Koning Toet se substasie Print E-mail
News - Rubrieke
Friday, 17 February 2023 11:20
Untitled Document

Die ontdekking in 1922 van Toetankamen (Engels: Tutankhamen) se feitlik ongeskonde graf deur Howard Carter en George Herbert, het wêreldwyd die nuus gehaal. Wie weet, miskien gaan die ontdekking in 2023 van die graf van ’n geskonde substasie, deur Jors Troelie, ook wêreldwyd die nuus haal!


Die panele staan regs teen die muur

Vroeg een oggend het Jors Troelie gaan stap in Cullinan – langs die Magalies Watersuiwerings-aanleg – waar water gesuiwer word wanneer daar water is. Deur ’n dig toegegroeide heining, gewaar hy ’n rooi baksteengeboutjie. (Nee, Sakkie, dis nie Hansie en Grietjie se huisie van koekies en lekkergoed nie – dis ’n substasie. Iets wat vroeër jare gewerk het toe daar nog krag was.)


Wat het hier gebeur?

Die hek se koperslot is lankalreeds herwin deur lede van die plaaslike bevolking. Jors rol die klippie wat die hek toehou weg, veg deur die lang gras, en stap om die gebou. Aha! ’n Deur staan wawyd oop, en lok hom na binne.

Wat ’n vonds! Oop elektriese skakeluitrusting – die panele staan op aandag teen die muur; sandhope wat duin sewe in Namibië sal laat skaam kry; PVC-isolasie wat soos pofadders die wêreld vol lê; en elektriese diagramme soos Egiptiese hiërogliewe teen die mure.


Bedrading?

Spinnekoppe, bye, miere en muskiete baljaar na hartelus tussen die stof en transformatorolie. Om te dink dat hierdie elektriese uitrusting eens op ’n tyd diensbaar was. Toe daar nog diens was. . .

Onwillekeurig dink Jors terug aan die dae toe hy, as jong elektrisiën, onderhoud op substasies gedoen het. Toe daar nog inspeksies gedoen was. Toe die substasies/skakelkamers gevee en met stofsuiers skoongemaak was. Toe die vloere nog met rooi Cobra stoeppolitoer ge-pôlliesh was. Toe “onderhoud” nog iets was soos in die verklarende woordeboek beskryf word.


Hope sand

Jors vat sommer kortpad deur ’n gat in die heining, en stap rustig terug na sy pondokkie. “Onthou,” sê hy vir homself. “Jy moet nog kerse gaan koop, die winkels maak vroeg toe, en dis alweer fase ses beurtkrag.

Dit is nie duidelik of die substasie nog in gebruik is nie. Werkers het sowat ses maande gelede nog kabels reg voor die substasie gelas.

 

© 2024 Die/The Bronberger