Nuwe jaar, nuwe dinge Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 28 January 2020 14:00
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Dis ‘n nuwe jaar en ‘n nuwe dekade. Daardie tyd van die jaar wat almal so bietjie wik en weeg oor waar daar plek vir verbetering is en met ‘n tikkie heimwee terug verlang na hoe dinge verlede jaar dieselfde tyd was. Maar teen Februarie wanneer die kinders terug is skool toe en die naarheid-waarheid van belasting weer inskop, vergeet ’n mens gou van voornemens en verlange.

Sperdatums: Die sperdatum vir belastingpligtiges wat salaristrekkers is, was 4 Desember 2019. Die sperdatum vir mense wat ander inkomste verdien, soos huurinkomste of besigheidsinkomste en wat dus ook voorlopige belastingbetalers is, is 31 Januarie 2020.

Dan is daar die 28 Februarie 2020 sperdatum vir belastingopgawes van ondernemings met ‘n Februarie jaareinde. Dit is egter ook weer wanneer die voorlopige belastingopgawes (IRP6’e) ingedien moet word.

Indien jy reeds Desember moes indien, maar vergeet het, dien so gou as moontlik jou opgawe in.
Voorlopige belasting is ‘n belasting wat vooruit geskat word op belasbare inkomste.

In wese word jou inkomste vooruit geskat vir die volgende jaar en belasting voorlopig daarop betaal sodat die belastinglas aan die einde van die finansiële tydperk, wanneer die belastingopgawe ingedien word, verminder. Dus betaal jy nie meer belasting nie, dit word net versprei oor die tydperke. Dié soort belasting is nie van toepassing op salaristrekkers nie, aangesien hulle reeds maandeliks op hulle inkomste belas word.

Die PAYE wat jy op jou salarisstrokie sien is die belasting wat maandeliks deur jou werkgewer bereken word en aan SARS oorbetaal word. Aan die einde van die finansiële tydperk word al dié inligting vir die jaar opgesom op ‘n dokument wat die IRP5 genoem word.

Die IRP5 word deur die werkgewer ingedien saam met ‘n rekonsiliasie van die belasting reeds oorbetaal. As individu moet jy egter seker maak of jy steeds aan die vereistes voldoen om jou opgawe by SARS in te dien – inkomste bo R500,000; ontvang uit ‘n enkele bron; sonder enige toelaes.

 

© 2024 Die/The Bronberger