Drempels, kortings en vrystellings Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 10 December 2019 08:00
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Indien jy jou belastingopgawe self invul, of jaarliks jou ore spits vir die belastingbegroting, sal die begrippe drempel, korting en vrystelling beslis ‘n klokkie laat lui.

Drempel: Indien jou belasbare inkomste hoër as die jaarlikse drempel is, sal jy belasting betaal. Vir 2020 is die drempel vir mense jonger as 65 jaar R79,000. Dit beteken dat ‘n belasbare inkomste van R79,000 se belasting presies op nul sal uitwerk. 

Die berekening lyk soos volg: R79,000 x 18% = R14,220 minus korting van R14,220 (vir 2020) = Nul. Die drempel het niks te doen met die feit of jy belasting moet indien of nie. Dit word ook nie afgetrek met jou belastingberekening nie. Die drempel vir mense tussen 65 en 74 jaar is R122,300 en vir mense 75 jaar en ouer is dit R136,750.

Korting: Die korting word jaarliks met die begrotingsrede aangekondig. Dit is die bedrag wat jy as individu jaarliks kan aftrek van jou belasting betaalbaar. Gestel jou belasbare inkomste is R100,000. Die berekening sal soos volg lyk: R100,000 x 18% = R18,000 minus die korting van R14,220 = R3,780 betaalbaar aan SARS. 

Vir mense tussen 65 en 74 jaar is die korting R7,794 ekstra (totaal van R22,014) en vir individue 75 jaar en ouer is dit R2,601 ekstra (totaal van R24,615). Dit staan ook as primêre, sekondêre en tersiêre korting bekend.

Vrystelling: ‘n Vrystelling beteken dat belasting nie betaalbaar sal wees op die gedeelte wat vrygestel is nie, maar slegs op die bedrag bo dit. So byvoorbeeld kry ons die rentevrystelling. Vir individue jonger as 65 is dit R23,800 en vir mense 65 jaar en ouer is dit R34,500. Indien jy dus jonger as 65 jaar is en jaarliks rente van R30,000 ontvang, sal slegs R6,200 (R30,000 – R23,800) by jou belasbare inkomste ingesluit word.

Mag elke leser se feesgety gevul wees met liefde, lag en saamwees en mag elke dag vir julle vreugde bring in die nuwe jaar wat voorlê.

 

© 2024 Die/The Bronberger