Jou eie baas Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 19 November 2019 14:41
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Werksgeleenthede is skaars en werkloosheid is aan die orde van die dag. Dit gebeur al hoe meer dat mense vir hulself geleenthede skep deur hulle eie ondernemings te begin. Soms spring die mens net holderstebolder met die idee weg en dink nie mooi oor die regs- en belastingaspekte na nie.

Eenmansaak
Die eerste opsie is die eenmansaak. Dit beteken dat die eienaar in sy eie naam handel dryf en op al die winste belas sal word in sy persoonlike hoedanigheid. Dié mens is ook alleen verantwoordelik vir die betaling van alle skulde. ‘n Groot nadeel van dié soort onderneming is dat persoonlike bates in die gedrang kan kom indien die onderneming deur moeilike tye gaan. Self al is jou omset of wins onder die kerf (R500 000) vir verpligte indiening van belasting, moet jy steeds jaarliks ‘n opgawe by SARS indien aangesien dit nie ‘n salaris is nie.

Vennootskap
Daar is ook ‘n opsie om ‘n vennootskap te begin. ‘n Minimum van twee en ‘n maksimum van twintig mense sluit ‘n vennootskapsooreenkoms waarvolgens handel gedryf word. Vennote is gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir skuld, en wins word verdeel in die verhouding waarin ooreengekom word. Elke vennoot word in sy persoonlike hoedanigheid op sy gedeelte van die wins belas.

Private Maatskappy
Jy kan ook ‘n private maatskappy by die “Companies and Intellectual Properties Commission” (of CIPC in kort) stig. Die maatskappy is ‘n regsentiteit op sy eie en word teen 28% belas.

Ander
Daar is natuurlik ander opsies ook beskikbaar soos trusts, ingelyfde maatskappye en nie-winsgewende organisasies. Elk het sy unieke eienskappe.

Registreer
Indien jy werknemers in diens neem moet jy by die Ongevallekommissaris registreer. Indien enige van daardie werknemers meer as 24 uur per maand werk, moet jy ook by die Werkloosheidsversekeringsfonds registreer.

Aansoek
Sou jy belasting moet aftrek by enige werker se salaris, sal jy by SARS moet aansoek doen vir ‘n PAYE nommer. Indien die bruto salarisse R500 000 oorskry in enige 12 maande tydperk, sal SDL (Skills Development Levy) teen 1% betaalbaar word.

Dan is daar die inkomstebelasting wat jaarliks ingedien moet word asook die voorlopige belasting wat elke ses maande ingedien moet word. BTW sal van toepassing word sodra die omset vir enige 12 maande tydperk een miljoen rand oorskry.

 

© 2024 Die/The Bronberger