Error

Amper halfpad Print E-mail
News - Rubrieke
Wednesday, 25 September 2019 09:53
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Ons is nou so ampertjies op die halfpadmerk vir die 2019-belastingseisoen. Dit het soos ‘n tuimeltrein weggetrek teen ‘n steil opdraande (stampe en stote deel van die rit) en skielik het dit net weggetrek met ‘n spoed.

Die meeste probleme is uitgesorteer, alhoewel daar nog so nou en dan ‘n opdraande is. Persoonlik dink ek die stelsel werk baie goed en in gevalle waar SARS ‘n geldjie moes teruggee, was dit vinnig afgehandel. Verifikasies word ook vinniger as verlede jaar afgehandel.

Sperdatum
Belastingpligtiges wat beoog om nog ‘n besoekie by ‘n SARS kantoor te gaan aflê het slegs tot
31 Oktober 2019 om so te maak vir hulle indienings. Vir elektroniese opgawes is die sperdatum
4 Desember 2019.

Betaling
Wat gebeur nou as jy dalk vir SARS ‘n geldjie moet gee. As jy klaar jou trane afgevee het, kan jy deur ‘e-filing’ ‘n betaling na jou bankprofiel laai. Jy kan dan elektronies op jou bankstelsel inteken en dit gaan betaal.

Jy kan ook ‘n begunstigde op jou bankprofiel skep met die verwysingsnommer wat op die aanslag voorkom. Of jy kan net die aanslag saamvat en by enige van die banke ‘n direkte betaling maak.

Verifikasies
 Indien jou aanslag gekies word vir verifikasie, kan jy dit op die aanslag sien onder die opskrif “Compliance Information”. Daar is ‘n blokkie wat aandui “Selected for audit or verification” met ‘n Y of N. Indien jou aanslag gekies word, moet jy wag vir die korrespondensie wat dan ‘n opsie sal open om die dokumentasie elektronies op te laai. Indien SARS nog verdere dokumentasie versoek, sal jy ‘n e-pos ontvang wat spesifiek aandui wat nog benodig word.

Verklaar alles
Die moontlikheid dat jou IRP5, mediese fonds en annuïteit se inligting reeds op die profiel vertoon is baie goed. Sommige individue dink egter dat hulle nie nodig het om rente wat verdien is te verklaar nie.

Die rede hiervoor is dat dit vrygestel is tot R23 800. Jy moet egter jou rente verklaar. Alhoewel jy nie daarop belas gaan word nie, het SARS wel dié inligting tot hulle beskikking en word boetes geheg vir onderverklaring van inkomste.

 

© 2024 Die/The Bronberger