Die gras is altyd groener . . . Print E-mail
News - Rubrieke
Monday, 19 August 2019 20:57
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Jip, so is dit dan dat die gras groener lyk aan die anderkant van die draad. Maar miskien is dit net omdat daar nie groot olifantpote is om dit te vertrap nie. Nêrens ‘n Afrika-leeu se gebrul nie . . .

Daar is genoeg redes vir so baie Suid-Afrikaners om koers te kies na lande in die verre vir werksgeleenthede. Maar wat gebeur nou met jou belastingsake hierdie kant van die draad met sy bruin grassies?

Ekspatbelasting – wag, wat? Daar is belastingvrystelling vir Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk indien hulle vir 183 dae of meer in die buiteland is met ten minste een reis van 60 agtereenvolgende dae.

Dié vrystelling sal steeds in die toekoms geldig wees, maar vanaf 1 Maart 2020 sal dit net geld vir verdienste tot ‘n maksimum van R1 miljoen per jaar. Jy sal dus belas word op die bedrag bo R1 miljoen. Daar is egter nog ‘n aantal ander toetse en/of faktore wat ook in ag geneem moet word.

Ingesete belastingbetalertoets: Dié toets handel daarmee of jy steeds ‘n “tax resident” is al dan nie. Jy sal as ‘n gewone inwoner gesien word in die land waar jy primêr woon en werk en waar jou familie en persoonlike besittings gebaseer is.

In ‘n geval waar normale inwoning nie akkuraat bepaal kan word nie, sal die fisiese teenwoordigheidstoets ‘n vyfjaartoets wees van die tyd wat jy binne Suid-Afrika deurbring. Indien jy nie ‘n ingesete belastingbetaler is nie, sal die nuwe wetgewing jou nie raak nie, maar jy sal steeds aanspreeklik gehou word vir belasting op verdienste uit ‘n Suid-Afrikaanse bron.

Dubbelbelastingooreenkomsbeskerming: Suid-Afrika het ongeveer 60 dubbelbelasting-ooreenkomste met verskeie lande. Dit pas die reël toe dat die land waarin die belastingbetaler vir 183 dae of meer per jaar gewerk het normaalweg die land sal wees wat die reg het om die verdienste te belas.

Buitelandse belastingkrediet: Enige buitelandse belasting wat deur jou betaal word, sal teen jou Suid-Afrikaanse belastinglas afgetrek kan word.

Finansiële emigrasie teen ‘n koste: Indien jy deur bogenoemde geraak word en nie kans sien om die belastinglas te dra nie, is daar ‘n opsie vir finansiële emigrasie. Dit beteken dat ‘n formele aansoek by SARS en die Suid-Afrikaanse Reserwebank ingedien word om hulle in kennis te stel van jou voorneme tot finansiële emigrasie.

Elke saak moet afsonderlik oorweeg word omdat kapitaalwinsbelasting hier na vore tree. Dit beïnvloed glad nie jou burgerskap nie.

 

© 2024 Die/The Bronberger