Saamstem of stry? Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 23 July 2019 11:29
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Hoe gemaak as jy nou nie heeltemal met die berekeninge volgens jou belastingaanslag saamstem nie?

Of as dit vorendag kom dat jy SARS ‘n groot klomp geld skuld? Wat staan jou te doen? Moet jy dit maar net gelate aanvaar? Nee, geheel en al glad nie! Daar is heelwat metodes om ‘foute’ reg te stel.

Ek het ‘n fout op my opgawe gemaak: Indien ‘n vingerfout ingesluip het met die voltooiing van die opgawe, kan jy die “Request Correction” opsie gebruik om ‘n gewysigde opgawe in te vul en in te dien. ‘n Nuwe aanslag sal daarvolgens uitgereik word.

Ek stem nie saam met die uitslag van die verifikasie of oudit nie: Goed, so jy het jou opgawe ingedien, is aangeslaan en toe word ‘n verifikasie gedoen. SARS voel egter dat ‘n sekere aftrekking nie toegelaat moet word nie, maar jy stem glad nie hiermee saam nie.

As ‘n belastingpligtige het jy die reg om beswaar te maak deur die “Notice of Objection” te voltooi en in te dien. Besware moet binne 30 werksdae na datum van aanslag ingedien word.

Sou daar egter ‘n baie goeie rede wees vir ‘n laat indiening, moet jy redes verskaf waarom SARS die laat beswaar moet oorweeg. Dit is baie belangrik dat alle relevante material (stawende dokumente) saam met die beswaar ingedien word.

SARS het nie die dispuut goedgekeur nie: Indien dit sou gebeur dat die beswaar gedeeltelik of ten volle verwerp word, het jy steeds die opsie om appèl aan te teken deur ‘n “Notice of Appeal” in te dien.
Dié soort dispuut moet ook binne 30 werksdae ná die Kennisgewing van Beswaar ingedien word.

Verder geld presies dieselfde reëls vir die laat indiening asook stawende dokumente. Dit is baie belangrik om seker te maak dat die appèl op dieselfde kwessies as die beswaar gebaseer is. Dieselfde bronkodes en bedrae moet gebruik word.

Help! Ek skuld SARS geld vir admin boetes: Indien jy nie met die boetes saamstem nie, kan jy ‘n Versoek om Kwytskelding indien (“Request for Remission”). Indien die versoek net gedeeltelik of glad nie toegestaan word nie, kan daar beswaar aangeteken word.

Administratiewe boetes word vir nie-nakoming gehef. Dit gebeur wanneer opgawes nie ingedien was nie. Alvorens die Versoek om Kwytskelding oorweeg sal word, moet alle agterstallige opgawes op datum gebring word.

Veg dapper vir wat joune is!

 

© 2024 Die/The Bronberger