Hef aan lê voor Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 25 June 2019 11:29
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Daar is nog net ‘n paar slapies voor die aanbreek van die belastingseisoen op 1 Julie vir belastingpligtiges wat van ‘e-filing’ of die SARS MobiApp gebruik maak. Vir diegene wat per hand indien, maak die belastingseisoen dié jaar eers op 1 Augustus oop.

Die volgende vraag is dan: Tot wanneer het jy tyd om jou opgawe in te dien? Die sluitingsdatums vir die belastingseisoen is: 31 Oktober 2019 vir indiening by takke; 4 Desember 2019 vir nie-voorlopige belastingpligtiges wat elektronies indien; en 31 Januarie 2020 vir voorlopige belastingpligtiges wat elektronies indien.

Dié jaar gaan aangepaste kennisgewings uitgereik word wat die spesifieke dokumente gaan aandui in die geval van ‘n oudit of verifikasie. Belastingpligtiges wat nie nodig het om ‘n opgawe in te dien nie, sal ‘n gesimuleerde uitslag van SARS ontvang asof hulle ‘n opgawe ingedien het. Die belastingpligtige kan dié uitslag dan aanvaar of die opgawe opdateer en indien.

Die groot verandering is dat mense wie se totale besoldigingsinkomste vir die jaar, voor belasting, nie meer as R500 000 is nie, nie ‘n opgawe hoef in te dien nie. In die verlede was dié kerf
R350 000.

Die res van die reëls bly egter presies dieselfde: Dit word slegs vanaf een werkgewer ontvang. Daar is dus net een IRP5 vir die jaar en PAYE is daarop afgetrek. Daar is geen ander inkomste, soos reistoelaag, huurinkomste, rente ontvang of besigheidsinkomste nie. Daar is geen aftrekkings, soos mediese uitgawes, uittree-annuïteitsbydraes of reisonkoste om te eis nie.

Onthou egter dat hierdie slegs geld indien jy ‘n IRP5 ontvang en nie in die geval van ander inkomste, soos huur- of besigheidsinkomste nie.

Belastingpligtiges wat vanaf 1 Augustus die SARS-takke besoek, sal gehelp word om as ‘e-filing’ of MobiApp-gebruikers te registreer. Personeel sal demonstreer hoe om van dié aanlyn-kanale gebruik te maak en Wi-Fi sal by SARS-takke beskikbaar wees vir dié proses.

Ons sien uit na ‘n streslose, suksesvolle 2019 belastingseisoen.

 

© 2024 Die/The Bronberger