Einde van ‘n boek-jaar Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 26 February 2019 08:21
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Die afgelope 365 dae het verby gesnel en hier is ons weer aan die einde van nog ‘n finansiële jaar: Die maandeinde wat byna alles op een slag moet gebeur. Een van dié groot gebeurtenisse is die indiening van die voorlopige belastingopgawe oftewel IRP6.

Wat is voorlopige belasting? Dit is nie ‘n aparte belasting nie, maar slegs ‘n manier waarop die belastingaanspreeklikheid vir die betrokke jaar in daardie selfde jaar betaal word. Die einde van die 2019 finansiële jaar is in sig – 1 Maart 2018 tot 28 Februarie 2019. Voorlopige belasting sal op die inligting in dié tyd baseer word.

Is dit op my van toepassing? ‘n Voorlopige belastingpligtige is:
• ‘n Mens (nie ‘n maatskappy nie) wat inkomste genereer wat nie ‘n salaris is nie;
• Alle maatskappye (behalwe nie-winsgewende organisasies en goedgekeurde ontspanningsklubs); en
• Enige mens wat deur die kommissaris in kennis gestel word dat hy ‘n voorlopige belastingpligtige is.

Wie word spesifiek uitgesluit as voorlopige belastingpligtiges?
• Afgestorwe boedels;
• Nie-winsgewende maatskappye en ontspanningsklubs;
• Regspersone en aandeelblok maatskappye; en
• Mense wat nie-besigheidsinkomste genereer wat onder die belastingkerf is en indien die belasbare inkomste uit verhuring van eiendom en rente nie die perk van R30 000 oorskry nie.

Hoe word voorlopige belasting bereken?
Die tweede betaling vir 2019 is einde Februarie verskuldig. Vir hierdie berekening sal die belasbare inkomste vir die tydperk vanaf 1 Maart 2018 tot waar jy op die dag van berekening is, gebruik word.

Die belasbare wins word teen die 2019-belastingkoers bereken en die eerste voorlopige betaling wat einde Augustus 2018 gemaak is, word afgetrek. Die verskil sal dan die bedrag wees wat aan SARS oorbetaal moet word.

Indien jy egter na die sluiting van die finansiële jaar agterkom dat jy te min oorbetaal het, kan jy ‘n vrywillige derde betaling maak.

Wat gebeur as ek te min skat? Wanneer die inkomstebelastingopgawe ingedien word (vanaf Julie), word die werklike belasbare inkomste bereken. Die voorlopige belasting wat reeds vooruit betaal was, word dan afgetrek.

Indien jou belasbare inkomste minder as R1 miljoen was en jou skatting minder as 90% van die werklike inkomste was, sal ‘n boete van 20% op die verskil bereken word. Waar dit meer as R1 miljoen was, word jy teen 20% beboet indien jou skatting minder as 80% is.

Indien die opgawe laat ingedien word, sal daar ook ‘n boete van 10% gehef word op die bedrag betaalbaar.

Moet ek steeds indien al is my voorlopige belasting betaalbaar R0.00? Beslis, ja – selfs al is dit ‘n ‘nul’-opgawe, moet dit ingedien word.

 

© 2024 Die/The Bronberger