Bronnie–hart klop warm in die winter Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 14 June 2024 08:00
Untitled Document

Die deurlopende positiewe terugvoer (soos in enkele skrywes op ons brieweblad weerspieël word) van getroue Bronnie-lesers uit ons gebied verwarm die hart en maak ons opgewonde oor die toekoms.

Die boodskap is duidelik – ons lesers is omgee-mense wat saamstaan wanneer dit nodig is, soos nou weer in ’n deel van ons landelike gebied gesien kan word. In ‘Sandplan kry groen lig’ op bl 6 vertel ons dat die departement van minerale bronne en energie vir Mtluva Mining omgewingsmagtiging gegee het om op bykans 965 000 hektaar van Onbekend en Kameelzynkraal vir verskillende soorte sand, sowel as aggregaat en allerhande soorte klip en klei te prospekteer.

Teen die Bronnie se saktyd het ’n groot groep inwoners saamgestaan om teen dié magtiging te appelleer. Al die eiendomme wat deur die voorgestelde mynbouaktiwiteite geraak sal word, is landbougrond. Plaashuise, store, lande, lewende hawe, weiding, heinings en aangeplante gewasse sal in die slag bly, sou daar gemyn word. Dit sal ’n verlies aan inkomste en sake van almal wat daar boer tot gevolg hê asook die koste om in ’n nuwe gebied te hervestig.

Op bl 6 vertel ons ook hoe ’n stedelike gemeenskap saamstaan. Die Pretoria-Oos Gemeenskapsorgforum het slaggate en krake in Moreletapark-paaie getakel. Dié span sny ook gras en verwyder onkruid en bome, wat tussen die sypaadjie en die stormwater-dreine groei.

Op bl 8 kan oor nog ’n saamspan-sukses gelees word. In ‘Dragtige ietermagog op Cullinan gered’ berig ons dat Opal, die ietermagogwyfie, gered is danksy ’n operasie wat deur die Cullinan-polisie se eenheid vir veediefstal en bedreigde spesies, die Gautengse verkeerspolisie en verskeie ander polisie-eenhede van stapel gestuur is.

Dit is ’n misdaad om in besit van ’n ietermagog of liggaamsdele van een van dié bedreigde diere te wees. Hulle is meer bedreig as renosters en moeiliker om te beskerm.

Dit is danksy die Bronnie se adverteerders dat ons hierdie en ander nuus met lesers kan deel. Daarom kan ons nie nalaat om ons adverteerders, waarvan sommige ook weens die omstandighede swaar trek en baie ook nuwe en innoverende planne moes maak om sake aan die beweeg te hou, uit ons harte te bedank vir die volgehoue ondersteuning oor die afgelope 22 jaar nie.

Ons bly opreg dankbaar vir die Bronnie se lojale lesers, wat deur wonderlike meelewing en die volhardende ondersteuning van ons adverteerders, die Bronnie-hart propvol hoop vir ’n blink toekoms aan die klop hou.

 

© 2024 Die/The Bronberger