Vasbyters en planmakers Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 17 May 2024 14:00
Untitled Document

“Sê my, is dit by die ander plekke ook so stil? Dis nie net hier by my nie, nê?”
Met die aflewering van April se Bronnie is dit die vraag wat ons telkens by toonbankverspreidingspunte gehoor het.

Ja, dit het al beter met almal gegaan, maar hierdie is niemand van ons se eerste rodeo nie. As jy hierdie lees het jy dwarsdeur Covid en anderkant uit gekom. Ons het selfs dié maand ’n advertensie waar Jeanette, wat die Bronnie se bladuitleg doen, hase uit hoede moes ruk om ’n bestaande kenteken verroes en verweer te laat lyk sodat die adverteerder kan sê: Battered but not beaten!” En hulle is terug in die Bronnie ná ’n drie-maande afwesigheid.

Ons wil graag sulke bemoedigende verhale met lesers deel. Een daarvan is Michelle Fourie se storie op bladsy 14. “Moenie moed opgee nie,” sê sy. Moenie net gaan lê nie. Staan op, want jy weet nie watter goeie goed dalk net om die draai vir jou wag en watter ongelooflike mylpale nog op jou lewenspad vir jou bestem is nie – dinge waarmee jy ander mense kan help.”

Ons het ’n hele aantal goeie-nuus stories dié maand. Lees op bladsy 22 oor Ronen de la Rey, ’n 16-jarige boerseun van die plaas Jakkalsdraai buite Rayton, wat geskiedenis op die gholfbaan gemaak het.

Op bladsy 23 vertel ons meer oor die mooi aand wat onlangs op Mooiplaats afgespeel het. ’n Fondsinsamelingsfunksies ten bate van Parkinson se siekte is gehou en ’n besonderse skildery is opgeveil.

Giepie, iemand wat met dié siekte leef, het verlede jaar ’n nuwe soort operasie ondergaan om daaglikse lewenstake makliker te maak. Die skildery wat hy geskep het, is ’n goeie voorbeeld van wat die resultaat van so ’n operasie kan wees.

Ons onderneem om ons lesers op hoogte te hou van inspirerende gebeure in ons kontrei. Hier by die Bronnie bly ons opgewonde en positief oor die uitdagings wat voorlê en ons kan dit met reg wees – want ons is nie alleen nie. Ons het die mense van Bronbergland oor bykans 22 jaar leer ken as vasbyters en planmakers.

Ons is dankbaar en geseënd om deurgaans die wonderlike ondersteuning en uitgesproke positiewe terugvoer van ons lesers, wat reikhalsend na elke liewe uitgawe uitsien, te kan ervaar sowel as dié van ons gewaardeerde adverteerders wat die waarde van blootstelling in ’n geloofwaardige medium, wat gretig en met aanvoelbare meelewing ontvang word, besef.

 

© 2024 Die/The Bronberger