Fokus op die landelike leefwyse Print E-mail
News - Kommentaar
Monday, 24 July 2023 08:00
Untitled Document

Die Bronberger word in September mondig! Kan jy dit glo? Ons beplan ’n baie spesiale gedenkuitgawe waarvan almal deel kan wees en ons nooi lesers nou al om hulle herinneringe van hierdie 21-jaar-lange pad in die Bronnie se kontrei met ons te deel.

Een ding is seker – oor die afgelope 21 jaar het die Bronnie se trots landelike gebied toenemende verstedeliking gesien. Landgoed-ontwikkelings is gevestig en het aanhou uitbrei tot die mense wat weens die rustige atmosfeer daarheen getrek het, begin wonder het wat van die jakkalse se skree geword het en hoekom die tarentale nie meer laatmiddag in die bome roep nie.

Benewens die groot aantal residensiële ontwikkelings in die hoewegebied, is daar ’n megastad op pad. In hierdie uitgawe is daar op bl 6 meer inligting oor Mooikloof Megastad met sy 50 000 deeltitel woonstelle, wat die gebied rondom Garstfonteinweg-verlenging radikaal sal verander.

Die R84 miljard projek op 210 hektaar is in Oktober 2020 deur president Cyril Ramaphosa as ’n strategiese geïntegreerde projek geloods, wat beteken dat die nodige goedkeuring, soos waterregte en munisipale hersonering, versnel is. Die installering van paaie, riool, elektrisiteit, water en stormwaterdienste is glo goed op dreef en die projek gaan na beraming binne sewe jaar voltooi wees.

Op bl 12 vertel ons dat die beoogde woonstelblokke op die 1,8 hektaar stuk grond langs Moreletakloof-natuurreservaat, waar die Rademeyerspruit in die reservaat vloei, die groen lig gekry het.

Dié residensiële ontwikkeling is nou wel in die stedelike gebied, maar ’n verandering aan die volume of gehalte van dié spruit sal ’n reuse impak hê op die reservaat en die ander groen gebiede wat die spruit ondersteun, soos Serene Valley en die Faerie Glen-natuurreservaat.

Natuurkundiges is verlig dat die projek se omgewingsmagtiging onderhewig is aan nakoming van ’n gewysigde uitlegplan, wat ’n bufferstrook van 32 meter vanaf die rand van die rivier se oewer aandui.

Met ons fokus op die landelike leefwyse, sal Bronnie-lesers op hoogte gehou word van sake wat die natuur raak, soos ons die afgelope twee dekades reeds doen. Ons beplan ’n aantal nostalgiese terugblikke oor ons gebied en sy eiesoortige mense in ons groot 21ste verjaardaguitgawe in September.

Dit is dié uitgawe van die jaar wat adverteerders die beste langtermyn blootstelling bied. Ons gedenkuitgawes het oor die jare versamelaarsitems geword en as die lewensaar van ons baie spesiale mylpaal-uitgawe word advertensies in ons lojale lesers se huise verwelkom. Bespreek solank jou plek.

 

© 2024 Die/The Bronberger