’n Boerpot-bonus Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 16 March 2023 10:18
Untitled Document

Welkom by nog ’n uitgawe van Die Bronberger. Ná bykans 21 jaar bly dit met elke uitgawe vir ons ’n kosbare voorreg om ’n eie, onafhanklike glanstydskrif vir die gemeenskap van ons gebied te lewer: Gratis te lewer.

Die kanse is goed dat jy, liewe leser, hierdie woorde op jou rekenaarskerm of selfoon lees. Want dit raak by die dag duideliker dat die een baie substansiële vernuwing wat langs Bronnie se pad (meer onlangse pad) gebeur het, die daarstelling van ’n elektroniese weergawe van die Bronnie is.

Die aanvraag en versoeke om die tydskrif langs dié weg te ontvang, het ons heel stoutste verwagtinge oortref. Sommige van ons was trouens blatant verbaas hieroor. Maar wat beteken hierdie weghol gewildheid van die Bronnie se ‘nuwe’ elektroniese uitgawe vir ons, vir ons lesers en veral vir ons kosbare adverteerders?

Dit is voor die hand liggend dat die enkel grootste verandering wat daarmee gepaard gaan die wonderlike en welkome feit is dat ons aantal lesers daagliks drastiese groei toon. Dit op sig self is vir ons hier by die Bronnie reeds ’n bevredigende bonus.

Vir ons gewaardeerde adverteerders wat van meet af aan die enigste voedingsaar van jou onafhanklike, gratis publikasie is, is dit ’n boerpot-bonus, kan jy maar sê. Ander ‘kenners’ van die ‘moderne’ publikasie-wese het aanbeveel dat ons die advertensiekoste moet ‘laai’ om aan te pas by die groeiende getal ‘elektroniese lesers’. Een het selfs gemeen ons moet ons ‘koppe laat lees’ oor ons dit nie doen nie. Ons het tot dusvêr nog nie en het nie onmiddellike planne om dit te doen nie.

Die gevolge van ekstra, andersoortige en groeiende blootstelling aan ons adverteerders, glo ons, sal uiteindelik vrugte afwerp deur meer positiewe resultate wat tot meer en toenemend volhoubare advertensies in die Bronnie sal lei.

Ja, dit is ’n onomstootlike feit dat die Bronnie se glansblad oor 21 jaar uiters gewild en gesog onder lesers is. Dié genade het ons lankal met dankbaarheid en deur ongekende terugvoer ervaar. Dié soort terugvoer ervaar ons nou weer oor die elektroniese Bronnie. Ons plaas net enkele uittreksels uit onlangse skrywes ter stawing:

Erné Smal van Mooikloof: Altyd lekker om eers die elektroniese uitgawe te kry. Ek gaan vinnig deur hom en probeer later die gedrukte uitgawe vir rekord doeleindes te kry. Baie dankie.

Erika Snyman van die Bronberg-gebied: Hoop julle mense gaan van krag tot krag. Kan julle asseblief vir my op die groep sit vir die maandelikse elektroniese uitgawes.

Stersia Botha van Mooikloof: My Bronnie-lyfie is nou ook elektronies maar aitsa! Ek is steeds propvol goeie, opbouende, essensiële, leersame en tong-in-die-kies binnegoed.

Hendrik Opperman van Witpoort: Dis sulke wonderlike nuus en vertellings en julle het dit, soos altyd, pragtig saamgestel en wat ’n plesier om deur te blaai op my foon.

Neëltjie Zehnder van Monumentpark: Baie dankie vir “my” elektroniese Bronnie. Soos gewoonlik interessante leesstof en advertensies. Die redaksie het weereens ’n pragtige, insiggewende Bronnie saamgestel.

Marlene Vorster van Pretoria: Ek woon ongelukkig nie meer in die area waar die Bronnie versprei word nie. Daarom moet ek dit nou aanlyn lees, wat ook goed is.

Gerhard van Zyl van Moreletapark: Kan ek ook maandeliks u wonderlike tydskrif elektronies kry, asseblief?

 

© 2024 Die/The Bronberger