Welkom in 2023 Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 20 January 2023 12:46
Untitled Document

Ons verwelkom nog ’n nuwe jaar. Só verwelkom ons ook elke liewe leser en adverteerder by nog ’n eerste Bronnie van nog ’n uitdagende jaar wat voorlê. ’n Jaar wat ons graag saam met julle in geesdrif en vasberadenheid aanpak en saam steeds wil voortgaan om ’n bevredigende suksespad te stap. 

Die blote gedagte daaraan dat hierdie reeds die 21ste nuwe jaar is wat Die Bronberger binne sy gemeenskap (en veel wyer sedert die koms van die elektroniese weergawe) die lig sien, is baie merkwaardig in die wêreld van onafhanklike publikasies en vervul ons met nederige dankbaarheid.

Elke nuwe jaar bring sy eie en unieke uitdagings. So was dit verlede jaar en só, weet ons, sal dit in 2023 ook wees.

Dit is met geloof en vertroue en met die hoop op die volgehoue rugsteuning en die merkwaardige en gewaardeerde ondersteuning van ons lesers en adverteerders, wat ons van meet af aan ervaar het, dat ons uitsien na ’n nuwe jaar – en na nuwe uitdagings.

Ons sal alle en enige voorstelle van ons vriende uit lesers- en adverteerders-geledere verwelkom en voorstelle van aanpassings of vernuwing om ’n nuwe jaar se nuwe uitdagings te oorbrug, aangryp en beproef, sou dit nodig wees.

Nuwejaarsvoornemens? Ja, kom ons noem net ’n paar: Dalk nie so nuut nie, maar tog sou ons, deur die genade wil aanhou, om:

  • 'n Publikasie van gehalte, na die beste van ons vermoë, vir en oor die Bronberg-gebied en sy besonderse mense uit te gee – soos wat ons die afgelope 20 jaar en vier maande poog om te doen.
  • Ons neem ons voor om weer skerp te fokus op ’n aantal klein jakkalsies wat die Bronberg-wingerd verniel en ook op die groter buffels wat dreig om die ganse oes te vernietig.
  • Ons bly vasbeslote om onafhanklik van enige groot organisasie en/of politieke party te bly en om ons fokus en ywer te bepaal daarby om as mondstuk vir die gemeenskap (ons lesers) van die gebied te dien. In dié proses wil ons leesstof, inligting en advertensies versprei wat aanklank vind by en van waarde vir ons lesers is.
  • Omgewingsake lê ons na aan die hart en ons wil weer vanjaar alles moontlik doen om te help met die bewaring van die gebied se natuurlike bronne en sy ryk plant- en dierelewe.
  • Een klein jakkalsie wat te dikwels sy vernielsugtige kop in die gebied uitsteek, is die afguns en nydigheid teenoor mede-inwoners. Verlede jaar het ons van ’n aantal lelike voorvalle bewus geword, waar eerlike pogings om ondernemings te vestig deur die afguns en nydigheid van gevestigdes, gedwarsboom is. Ons wil help om dié gogga uit te roei en ons glo dat ons kan help om daardie ‘plekkie in die son’ meer geredelik beskikbaar te maak.

Net ’n paar voornemens dan, lukraak getrek uit die Bronnie se plannepot vir 2023.

Ons gee die eerste tree die nuwe jaar met vertroue binne. Ons sien uit daarna om maandeliks ’n publikasie steeds gratis aan ons wye, groeiende en besondere leserskorps te verskaf. Een wat, soos oor die afgelope 20 jaar, aanklank sal bly vind by ons ywerige lesersvriende. ’n Gewilde glanstydskrif wat deeglik gelees word en dit sodoende meer as die moeite werd maak vir ons adverteerders (ons lewensbloed) om hulle gereelde teenwoordigheid in die Bronnie te verseker.

Hef aan!

 

© 2024 Die/The Bronberger