Wolwe in skaapsklere Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 18 March 2022 13:13
Untitled Document

In ’n gemeenskap wat oor die jare heen sy groot welsyn- en omgee-hart op verskillende vlakke bewys het, het ons gebied ongelukkig ook nie die laakbare teenwoordigheid van enkele ‘wolwe in skaapsklere’ vrygespring nie. Hulle is oral: Wêreldwyd.

Dié wolwe wat slu in uiteenlopende afdelings van die samelewing rondsluip, het gewoonlik ’n paar goed in gemeen. Een hiervan is die selfsugtige en doelgerigte nastrewe na eie gewin en mag ten koste van ander.

Ongelukkig blyk die voorkoms van dié ongewenstes in ons land en ons omgewing redelik volop te wees in die geledere van diegene wat veronderstel is om na die veiligheid, welsyn en beskerming van die breër gemeenskap om te sien.

Gelukkig kan ons dit uit ervaring en sonder skroom stel dat die vyfstuks polisiestasies wat ons gebied bedien, grootliks deur bekwame en eerlike lede beman en bevrou word.

Die Bronberggebied is ook bevoorreg om te kan spog met onbaatsugtige en baie aktiewe gemeenskappolisiëringsforums (GPF's) en gemeenskapbeveiligingsgroepe: Gewone lede van die gemeenskap wat ongewone en noodsaaklike take verrig.    

’n Mens kan en wil nie veralgemeen en almal oor dieselfde kam skeer nie. ’n Paar vrot appels kan egter ’n groot kloof tussen byvoorbeeld die polisiedienste, stadsrade in die algemeen en die publiek oopgrawe.

Dit blyk ook dat lede van veiligheidsfirmas in die private sektor hulle toenemend optof in skaapsgewaad met die uitsluitlike doel om hulle wolf-gewoontes te verbloem.  

Op bladsy 14 van dié Bronnie word berig oor ’n voorval waar ’n sogenaamde reaksie-offisier van een sekuriteitsfirma by grootskaalse kabeldiefstal betrokke was. Die kabeldief is ná ’n wilde jaagtog deur ’n lid van ’n ander veiligheidsfirma aangekeer en van sy skaapsklere gestroop.

Volgens ’n verteenwoordiger van die diere-skuiling, Wet Nose, kry hulle ook toenemend te doen met gevalle waar sekuriteitsfirmas van honde gebruik maak, en hulle dan skuldig maak aan gruwelike dieremishandeling.

Dit is ook ’n feit dat ons gebied oor baie doeltreffende, gevestigde veiligheidsfirmas beskik. Beste raad is om die prestasie-rekord van ’n veiligheidsmaatskappy deeglik na te gaan, voor jy hulle betrokke maak by jou en jou eiendom se beskerming.

Gepraat van . . .
Gepraat van prestasie-rekord: Dit dien altyd as groot aansporing om gereeld briewe te ontvang van lesers en adverteerders soos dié een van Tjaart Pelser in verlede maand se Bronnie. Tjaart skryf ondermeer: “Ek adverteer nie sommer weer in die Bronnie nie. Hoekom? Kan nie al die navrae hanteer nie. Tien uit tien!”

Tjaart adverteer wel weer in dié uitgawe.

Besonderhede oor advertensies in die Bronnie kan hier neffens op bladsy vier gelees word.  

 

© 2024 Die/The Bronberger