Welkom in 2022! Print E-mail
News - Kommentaar
Saturday, 22 January 2022 06:05
Untitled Document

Welkom by die heel eerste uitgawe van die Bronnie in dié nuwe jaar. Dit is 2022 en ons is eindeloos dankbaar vir die voorreg om te kan uitsien na Die Bronberger se 20ste bestaansjaar in ’n bepaalde gebied waar ’n baie besonderse gemeenskap ons verwelkom en van meet af aan deur ongekende aanvaarding en meelewing aangespoor het.

Die harte loop ook oor van dankbaarheid vir elke adverteerder wat deurgaans die lewensbloed van dié gratis, onafhanklike gemeenskapsblad was en is. Dankbaar ook natuurlik daaroor dat dié advertensies werk, juis omdat die Bronnie se lesers oor 20 jaar heen iets baie belangriks besef en ervaar het: Geloofwaardigheid is uiters belangrik. Om te kan glo wat jy lees, of nie, raak ongelukkig deesdae toenemend en jammerlik op die wyer front ’n onsekere dobbelspel.

Waar ons gereed staan om die nuwe jaar met geesdrif, vertroue en oorgawe storm te loop, bly ons deeglik bewus van die ongekende uitdagings wat reeds die afgelope paar jaar die lewenspad saam met ons almal stap en in alle waarskynlikheid nie sommer sal loop lê om sake sonder ’n paar dinge in die drinkwater te laat voortvloei nie. Trouens ons, en ons glo die meeste van ons oopkop-lesers en adverteerders ook, is slaggereed om dié duistere waters saam te toets en te help suiwer van snert en selfsug.

Nuwejaarsvoorneme kan en wil ons dit nie noem nie, maar die Bronnie se doelstelling en wens vir ons en die mense wat dié gebied met ons deel, het oor bykans 20 jaar se vreugdevolle volharding nie veel verander nie.

Ons neem ons voor om vanjaar weer skerp te fokus op ’n aantal klein jakkalsies wat die Bronberg-wingerd verniel en ook op die groter buffels wat dreig om die ganse oes te vernietig. Ons onderneem om die Bronnie as vanghok en verdowingspyl in te span teen dinge wat pla, maar ook om te fokus op die positiewe, die suksesverhale en op die mense wat ’n verskil maak.

Omstandighede het die afgelope paar maer-jare natuurlik dikwels onverwags verander en aanpassings was noodsaaklik. Maar die doelstellings en drome het rotsvas bly staan: ’n Onafhanklike mondstuk ter inligting en bevordering van die gemeenskap en hulle belange in die groter Bronberg-gebied in die ooste van en ten ooste van Pretoria.

Aan die plus-kant het die ‘maer jare’ ons gedwing om ons ook bykomstig tot die elektroniese opsie te wend en sodoende is derduisende nuwe Bronnie-lesers ‘gewen’. Baie welkom!

Die fokus bly ook vanjaar gerig op die landelike leefwyse, die bewaring van die omgewing, die beskerming van die gebied en sy mense teen uitbuiting, korrupsie en teen obskure karakters met verdagte motiewe. Ons bly deurgaans onafhanklik met geen verbintenis aan enige politieke party of ander korporatiewe of idealistiese organisasie nie.

Die jaar bring ook sy eie nuwe uitdagings. In opregte dankbaarheid en met geesdrif sien ons daarna uit om ons gewaardeerde lesers en adverteerders ook in 2022 met leesgenot van gehalte en geloofwaardigheid te voorsien. Hef aan!

 

© 2024 Die/The Bronberger