Is ons soos die kreef? Print E-mail
News - Kommentaar
Saturday, 16 October 2021 05:53
Untitled Document

Van meet af aan (nou meer as 19 jaar) was dit Die Bronberger se verklaarde beleid om hom nie op te hou met die duistere wêreld van party-politiek nie en dit is vandag nog die geval.

As publikasie, ondersteun ons geen politieke party nie. Eweneens sal ons nie skroom om flaters, mistastings, onbekwaamheid of verdagte praktyke wat op enige vlak deur die optrede van enige owerheid van die dag, ons gemeenskap en ons omgewing nadelig raak, aan te spreek nie. Ons het nog nie en is ook nie van plan om enige politikus of sy/haar party te ‘beskerm’ of te help stemme werf nie.

Waar ons nou op die vooraand van nog ’n munisipale verkiesing staan, is dit ’n gegewe dat kandidaat-raadslede en hulle partye die mooiste broodjies denkbaar sal bak om die guns van die kiesers te probeer wen. Beloftes word gemaak en waar partye die bewind voer, word gepoog om sigbare verbetering van dienste uit te stal. ’n Oefening wat ongelukkig weens swak bestuur en beheer, soms tot die spreekwoordelike skiet-in-eie-voet kan lei.

Natuurlik kry jy – soos die geval ook op ander vlakke – die politikus of drie wat sy/haar gemeenskap se belange werklik op die hart dra. Ongelukkig is dit ook waar dat daar in die partypolitieke balie altyd ’n aantal bedorwe appels is: Wêreldwyd.

In die afgelope dekades het inwoners van die Bronberg-gebied, eers grootliks onder die juk van Kungwini en Nokeng, baie blapse en vreemde besluite onder verdagte omstandighede ervaar. Later het die metroraad van Tshwane oorgeneem en geleidelik het die agteruitgang voortgesleep. Só geleidelik dat mense begin gewoond raak het aan swak of geen dienslewering en besluitneming wat skynbaar onbepland gedoen is. Dit het bykans onmoontlike eise aan die infrastruktuur tot gevolg gehad. Intussen skiet die finansiële las op die belastingbetalers die hoogte in.

Dit is ook opvallend in ’n voor-verkiesingstyd soos hierdie, dat eise deur vakbonde en ander organisasies skerp toeneem. Die hongerige gevry na stemme word deeglik deur dié mense besef en uitgebyt.

En ons vuisvoos belastingbetalers? Ons blyk grootliks soos die kreef te geword het: Gewoond daaraan. Waar enkelinge vrae vra en antwoorde soek, word hulle selfs soms deur die betrokke party se aanhangers daarvan beskuldig dat hulle ‘negatief’ sou wees en dankbaar moet wees vir wat hulle het. Is ons fut werklik só uit dat ons maar net kopskud en die ou wet van Transvaal laat geld? Ons glo nie so nie.

Het die tyd nie al oorryp geword dat daar weer soos in die verlede sterk en bedrywige belastingbetalers-verenigings ook in ons gebied op die been gebring word nie? Verenigings met onderhandelings-vermoë en met gewigtige wapens van oortuiging en invloed. Hoe lui die ou uitdrukking? “Geld praat.”

 

 

© 2024 Die/The Bronberger