Ramp saai verwarring Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 16 July 2021 06:46
Untitled Document

Dié uitgawe van die Bronnie is reeds die 16de een wat uitgegee word sedert Covid-19 ook ons land en gebied binnegeval het. Ons is oneindig dankbaar vir die ondersteuning en genade wat dit deurentyd nog moontlik gemaak het om vas te byt en die Bronnie maandeliks aan ons lesers te lewer. In die 16 maande wat verloop het, het die virus sekerlik nog nie só naby aan só baie van ons beweeg en met só ’n felle aanslag vorendag gekom nie.

Ons by die Bronnie wil graag ons opregte simpatie uitspreek teenoor almal wat direk geraak is. Dié wat geliefdes en vriende moes groet, wat self siek geword het, die baie kleiner sake-ondernemings wat noustrop trek en selfs moes deure sluit en die mense wat skielik werkloos en desperaat gelaat is.

Geen onderwerp word deesdae só druk bespreek en oor geen onderwerp nog het soveel verskil, venyn, onmin, twis, valse bewerings, valse nuus en tweespalt  onder mense – ook ons mense, veroorsaak nie.

Dié vyandige en aggressiewe vlaag onder mense en die grootskaalse onsekerheid word uiteraard skerp aangejaag deur die uiteenlopende menings, binnegevegte, beledigings en bewerings wat hoogty op ‘sosiale media’ vier.  

Dit dra ook sterk daartoe by dat al hoe meer fopnuus-moeë mense hulle weer wêreldwyd wend na die tradisionele en onafhanklike gedrukte media.

In ’n land soos Nieu Seeland, byvoorbeeld, het gevestigde koerante en tydskrifte skielik die hoogste sirkulasiesyfers en advertensieverkope in hulle ganse bestaan ervaar. En ons wil glo dat dié neiging wyer sal versprei. Die rede hiervoor lê in ’n eenvoudige begrip: Geloofwaardigheid.

Verkiesing
Sedert sy ontstaan, bykans 19 jaar gelede, is dit Die Bronberger se uitgesproke beleid om hom nie op te hou met of betrokke te raak by partypolitiek of pornografie nie.

Maar as gemeenskappublikasie binne ’n bepaalde en baie spesiale gebied, sal ons uiteraard betrokke raak waar uit owerheidsweë op só ’n wyse opgetree word dat dit ons lesers en hulle gebied raak – positief of negatief.

Waar ons nou voor nog ’n munisipale verkiesings staan sou dit indruis teen ons beleid en wese om ’n bepaalde politieke party of kandidaat voor of teen te staan. Soos oral kry ’n mens onder hulle ook dié met edele bedoelings en baie wat om minder goeie motiewe en met verdagte geraamtes in die kas by die politiek betrokke wil raak.

Ons glo ons lesers is ingelig genoeg en voel elke dag aan hulle basse wat reg is en wat sleg is in die huidige munisipale owerheid en die verteenwoordigers wat in hulle wyke ‘dien’.

Ons kan maar net maan dat diegene wat hulle kruisies gaan trek op verkiesingsdag, die moeite sal doen om deur navraag en reguit vrae hulle te vergewis van die ware karakter, agtergrond en motiewe van elke kandidaat in die verskillende wyke van ons gebied. Dit is jou reg en jou plig.

 

© 2024 Die/The Bronberger