Bewaring is nie stagnering nie Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 18 June 2021 05:25
Untitled Document

Destyds toe die Bronnie nog doelgerig in sy babaskoene aangestap het, het dit reeds duidelik geword dat sy lesers grootliks die geesdrif en toewyding vir ‘bewaring’ met Die Bronberger se redaksie en uitgewers in gemeen het.

As ons hier oor ‘bewaring’ praat, bedoel ons dit geensins in dié sin van stagnering of as teëvoeter vir vernuwing of ontwikkeling nie.

Die feit bly egter dat die mense van ons gebied en hulle eie gemeenskappublikasie passievol is oor die beskerming en bewaring van hulle omgewing, die natuur en oor hulle erfenis, herkoms en geskiedenis. Ter stawing van dié trotse bewaringsbewustheid, hoef ’n mens bloot deur dié uitgawe van die Bronnie te lees.

  • In Fokus op veldblomme deel ’n leser van Garsfontein sy liefde vir die natuur en bepaald vir veldblomme met ons.
  • Die belangrikheid van die bewaring en skoonheid van ons natuurlike omgewing word in Nog ’n banier afgehaal versinnebeeld. Lesers het hulle besware en kommer oor ’n reuse banier teen ’n koppie op Donkerhoek met die Bronnie gedeel. Ons het opgevolg en die banier is verwyder.
  • In Jong ietermagog uit stropers se kloue gered berig ons volledig oor die prysenswaardige pogings om die bedreigde ietermagog in ons omgewing van uitwissing te red. Stropers van dié diertjie is vasgevat en ’n jong ietermagog is uit hulle kloue gered.
  • Planne van ’n Australiese mynmaatskappy om silika in die omgewing te ontgin, sou tot gevolg hê dat die slagveld uit die Tweede Vryheidsoorlog (die slag van Donkerhoek) en ander geskiedkundige gedenkwaardighede vernietig sou word. Die Bronnie het ’n lang pad saam met ander belanghebbendes gestap om dié vernietiging te help keer. In Gedenktekens help slagveld teen mynbou beskerm kan meer oor die jongste verwikkelinge gelees word.
  • Met die skoonmaak en opknapping van ’n ou begraafplasie op Zwavelpoort is die graf van Paul Jungnickel herontdek. In Paul Jungnickel se graf herontdek in Zwavelpoort kan meer gelees word oor dié seun en sy verbintenis met die gebied se Paul Jungnickelhuis en oor die geskiedkundige JH (Hans) Smit begraafplasie.
  • Die gemeenskap van Tierpoort span saam om die paaie, waaronder die berugte ‘gatpad’, in hulle omgewing rybaar te maak, berig ons in Gemeenskap pak berugte ‘gatpad’.

Net ’n paar voorbeelde in ’n enkele uitgawe van die Bronnie wat dit duidelik uitspel hoe belangrik ‘bewaring’ vir ons en vir die mense van dié uitsonderlike gebied is. Só is oor die afgelope bykans 19 jaar in 238 uitgawes telkens klem gelê op die beskerming van dit wat in Bronbergland bewaringswaardig is.

 

© 2024 Die/The Bronberger