As ander Jakkals se stert prys Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 21 May 2021 02:47
Untitled Document

Sou ou Jakkals sy eie stert prys, bejeën ’n mens gewoonlik dié selfvoldaanheid met agterdog, ongeloof en selfs afguns. Sou ander, objektiewe mense (of selfs geloofwaardige jakkalse) egter ou Jakkals se stert prys en goedpraat, sou ’n mens neig om te dink dat daar tog iets in dié stert steek wat dit prysenswaardig maak.

Die Bronnie is oneindig dankbaar om hom in die bevoorregte posisie te bevind dat ons (stert dan) deurlopend ná elke uitgawe deur gewaardeerde lesers en adverteerders geprys word.

Ons ervaar van meet af aan (byna 19 jaar gelede) ’n meelewing van ons lesers wat gereeld deur briewe, oproepe en boodskappe stertprysend en waarderend van aard is. Hiernaas plaas ons net ’n paar hartverwarmende briefies uit die talryke dergelike boodskappe wat ons weer ná die vorige uitgawe gekry het. Ons nederige dankbaarheid en waardering ken geen perke nie.

Soos vir die meeste van ons gebied en land se mense wat onafhanklik sake bedryf, het die afgelope 14 maande ook vir ons by die Bronnie ongekende uitdagings gebring. Baie ouer en gevestigde publikasies (met die rugsteuning van groot instansies) het die knie voor die aanslag wat Covid met hom saamgebring het, gebuig. Vir ons is dit ’n hartseer toedrag van sake en, na ons mening, in gevalle was dit nie werklik nodig nie – maar dit is ’n gesprek vir ’n ander tyd en plek.

Net deur genade en met die ondersteuning van ons getroue lesers en adverteerders, byt die Bronnie vas en dit in volle vertroue dat ook dié hindernis (vol distels, dorings en slaggate) oorkom kan word en dat daar met ’n spoggerige, prysenswaardige stert en kop omhoog anderkant uitgekom kan word.

Ons is ook oneindig dankbaar en tegelykertyd kinderlik opgewonde om te kan sê dat ons met hierdie uitgawe van Die Bronberger die eerste keer in maande ’n betekenisvolle toename in advertensie-volume ervaar. Ons vertroue en bede is dat dié neiging sal voortduur en groei.

Dit word ook met elke uitgawe duideliker dat mense wat die Bronnie elektronies lees en geniet, oor ’n wyer gebied, met rasse skrede toeneem en dis goed so: Hoe meer lesers, hoe groter die blootstelling ook vir ons adverteerders. Maar ons is vasbeslote om die gedrukte glanspapier-weergawe volhoudend, maandeliks by sy verspreidingspunte te besorg. Soos een gereelde leser in ’n briefie sê: “Die elektroniese Bronnie is seker gerieflik, maar vir my is daar niks soos om die ‘ware Jacob’ in my hande vas te hou nie.”

 

© 2024 Die/The Bronberger