Die oplossing? Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 19 March 2021 04:30
Untitled Document

Van meet af aan, reeds met die heel eerste uitgawe van Die Bronberger in September 2002,het dit dadelik duidelik geword dat hier ’n mondstuk vir ’n uitsonderlike en eiesoortige gemeenskap gebore is: ’n Gemeenskap wat werklik omgee en lief is vir die mooi omgewing waarin hulle verkies om te woon.

In dié eerste uitgawe van die Bronnie, bykans 19 jaar gelede, het ons berig oor die kommer van omgewingsbewustes en inwoners van die gebied, oor die vernietigende uitwerking wat ’n steengroef (toe nog bekend as Willow Quarries) op ’n Zwavelpoortse deel van die Bronberg het. Ons het ’n foto-artikel gedra oor hoe die berg verrinneweer word en die krities bedreigde Juliana se goue mol in die proses geraak word.

In sake wat gevolg het, is beveel (volgens ’n brief hiernaas, wat ons net voor saktyd van Henk Bloem ontvang het) dat die steengroef nie in die toekoms oor ’n sekere lyn (bekend as die mol-lyn) mag ontgin nie.

Volgens Henk het die owerheid blykbaar intussen besluit dat die sogenaamde mol-lyn nie meer belangrik is nie en dat die berg nog 100 meter anderkant die lyn en nader aan die berg se kruin, geskend mag word.

Tyd het ongelukkig verhoed om te bevestig wat die werklike toedrag van sake is, maar een ding is seker: Die mense van die Bronberg-gebied en hulle mondstuk sal nie goedsmoeds ophou om vir hulle omgewing om te gee nie en dit hardnekkig te beskerm nie.

Eskom – al weer
Oral in die Bronnie se wye verspreidingsgebied het die kragreus (eintlik ’n oksimoron), Eskom, toenemend vir ongerief, frustrasie en verliese gesorg. In die onlangser verlede is dit veral die Cullinan-gebied wat behoorlik deurloop.

Die hele kringloop van ondoeltreffende diens het, as ons dit reg onthou, dalk ontstaan toe begin is om aan kabels te ‘werk’ wat straatligte van krag voorsien. Die eerste van ’n hele reeks voortslepende kragonderbrekings het begin. Telkens is verontskuldigende redes met elk van die onderbrekings aan ’n gemeenskapsgroep gemoeid met munisipale sake, gegee.

Wat die toestand vererger en inwoners toenemend keelvol maak, is die feit dat die gebied telkens waterloos gelaat word, as geen Eskomkrag beskikbaar is om water na Magalies Water se reservoirs te pomp nie. Daarby verloor die gebied telkens alle Telkomseine, insluitend toegang tot die internet en selfs die groot selfoon-netwerke se ‘diens’ verdwyn.

Telkens word inwoners gerusgestel dat Eskom se ‘spanne’ besig is om die saak reg te stel. Ons neig egter om te dink dat die onbekwame spanne ‘Eskommers’ juis eerder die oorsaak as die oplossing is.

 

© 2024 Die/The Bronberger