Woorde wat inspireer Print E-mail
News - Kommentaar
Friday, 19 February 2021 17:22
Untitled Document

Bemoedigend en selfs inspirerend is dit, veral in die omgekrapte omstandighede wat ons almal tans ervaar, om briewe van lesers soos hiernaas en op dié bladsy te ontvang.

Briewe soos dié van Stersia Botha van Mooikloof waarin sy ons bedank vir die ‘aanhou en deurdruk en aanpas’ om die Bronnie steeds maandeliks klokslag aan sy lesers te lewer. Stersia vra dat ons haar Bronnie voortaan elektronies aan haar sal stuur.

Só is net in hierdie uitgawe, en veral sedert die ‘virus’ sy aaklige kop uitgesteek het, soortgelyke en opreg gewaardeerde woorde van ons lesers wat bedank en aanmoedig en werklik as aansporing dien om in moed, hoop, vertroue en geloof  aan elke nuwe uitgawe van Die Bronberger te werk.

Voortgaan sou natuurlik ondenkbaar en onmoontlik wees as dit nie vir die Bronnie se spesiale vriende was wat ons deur middel van advertensie aanhou ondersteun nie. Elke getroue leser behoort, soos ons hier by die Bronnie is, oneindig dankbaar te wees aan elke onderneming wat hulle dienste en ware in die wyer Bronberg-gemeenskap se gunsteling publikasie adverteer.

Dit is deur die afgelope bykans 19 jaar as ’n feit soos ’n suksesvolle transaksie bewys dat die Bronnie se lesers ’n doelgerigte  punt daarvan maak en uit hulle pad uit gaan om diegene wat in Die Bronberger adverteer, te ondersteun. En dit is bes moontlik die enkel belangrikste seëning, wat die Bronnie op die been hou en met vertroue na die toekoms laat uitsien.

Ja, tye het drasties verander en aanpassing is hier en daar noodsaaklik. Sekere van ons getroue adverteerders voel hulle byvoorbeeld genoodsaak om meer sporadies te adverteer. Sosiale media, veral FB word oorstroom deur ’n doolhof van herhalende advertensies soos mense in desperaatheid poog om kop bo water te hou of te kry.

Dit is natuurlik elkeen se goeie reg om alle moontlike weë te probeer om hulle dienste en produkte verkoop te kry. Ook in Bronbergland het etlike gebied-gebonde FB-blaaie, aanvanklik as inligting- en geselsgroepe, ontstaan. Vandag is by verre die meeste van daardie sosiale-media-blaaie ’n harlaboerla van die een advertensie op die ander en baie van daardie advertensies word sommer kort-kort herhaal. Is dit doeltreffend? Ons weet nie. Kan dit soms irriterend raak en selfs kontra-produktief wees?

Net voor die skrywe hiervan het ons gou een dergelike FB-blad, gemik op ’n sekere deel van die Bronberg-gebied, besoek. Ons het bo begin en van advertensie tot advertensie – dikwels herhalings – afgerol tot ons deur 38 advertensies was, voor iemand iets gesê het en dit het nie oor ’n advertensie gegaan nie. Nie eers ’n hou-van-duimpie kon by een enkele van dié FB-blad se advertensies gesien word nie . . .

Ons druk hiermee ’n stewige hou-van-duim hoog die lug in vir elke adverteerder wat die Bronnie ondersteun en ook vir elke liewe leser wat hulle eie Bronnie se adverteerders ondersteun.

 

© 2024 Die/The Bronberger